Gallery Update
STILBAAI NUUS - Nege lewensredders het van Donderdag 4 tot Sondag 7 Julie 'n noodhulpkursus by die Silver Link-opleidingsentrum deurloop.
"Die lewensredders van tussen 17 en 30 jaar oud het die teoretiese en praktiese kursus gedoen en die eksamen afgelê," vertel Caville Abrahams, voorsitter van Hessequa se Surf Lifesaving-klub.
Tilana Coetzee van Silver Link het elke dag tussen 08:00 tot 15:00 die opleiding aangebied. Twee van die studente is van Stilbaai, terwyl die ander op Riversdal woon en Sonja Smal het verblyf in die kusdorp tot hul beskikking gestel.
"Die opleiding het op mediese noodgevalle gefokus wat in die see, op die strand en by swembaddens kan voorkom," het Abrahams gesê.
"Dit het onder meer beenbreuke, snye en kneusplekke, hoë- en lae bloeddruk en ernstige mediese toestande soos verdrinking, hartaanvalle en beroerte ingesluit." Veral kunsmatige asemhaling (CPR), wat nodig is om verdrinkingslagoffers te red, het aandag gekry.
Volgens Abrahams open die swemseisoen by Takkieskloof- en De Mist-swembaddens op Riversdal en die openbare swembad op Heidelberg op 1 September. Die lewensredders is ook tydens die Desember-skoolvakansie by Hessequa se strande by Witsand, Stilbaai en Gouritsmond aan diens.
"Die lewensredders moet elke jaar weer die toets aflê."
Lees 'n vorige artikel hier: Lewensredders reg vir swemseisoen
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'