SWELLENDAM NUUS - Die plaaslike hospitaal het 'n geldinsamelingsprojek gehou waarin dames 'n oggend van bederf op Saterdag 2 September kon geniet.
Elkeen moes 'n mooi hooftooisel dra en dit het vir groot vermaak gesorg met die wye verskeidenheid kreatiwiteit. Die idee van die oggend het ontstaan toe dr. Sumara Bothma, wat by Swellendam-hospitaal werksaam is, besef het haar buurvrou, Haidee Nel, is 'n bekende beeldhouer.
"Hier is kunstenaars wat 'n fantastiese werk doen en wêreldwyd bekend is wat in ons midde is." Bothma het ook meer vertel oor die werksaamhede van die hospitaal wat reeds 59 jaar oud is.
"Dit is in 2013 opgegradeer en vandag spog ons met 'n pragtige hospitaal op ons klein dorpie."
'n Emosionele Minki van der Westhuizen, aanbieder van die televisiereeks Boer soek 'n vrou, het aan die ongeveer 400 vrouens wat die geleentheid bygewoon het, gesê: "Ek besef as ek so baie vroue bymekaar sien, hoe baie mens vir mekaar doen en beteken."
Talente is saamgesnoer en die gaste het hulle verkyk aan elkeen se unieke bydrae. Die laerskoolsaal was behoorlik stampvol, die tafels was fraai versier en 'n plesier vir die oog.
Die res van die verrigtinge het 'n veiling, 'n hooftooisel beoordeling en 'n musiekprogram ingesluit waar almal die klarinet, klavier en sopraansang van hoë gehalte kon geniet.
ARTIKEL EN FOTO: ALETTA SUTHERLAND, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Swellendam, Hessequa nuus'