HESSEQUA NUUS - Die brief in Suid-Kaap Forum van 17 Mei, 'Liewe skool, wanneer moet ek…' is soos 'n noodkreet om hulp.
Dit lyk of die brief namens duisende ouers wat met dieselfde probleem opgesaal sit, praat - ouers wat wil inspring en help, maar wat nie weet hoe nie. Die groot ding waaroor almal kla, is dat leerders nie op hul graadvlak kan lees soos wat van hulle verwag word nie.
Hulle leesvaardigheid is twee of meer jaar agter, graad 4-leerders lees byvoorbeeld soos graad 2's.
Lees is een van die hoekstene waarop 'n leerder, student, onderwyser of akademikus se loopbaan en toekoms rus. 'n Kind wat nie goed kan lees nie, sal altyd sukkel met skoolwerk.
So 'n kind mag wel na die volgende graad oorgeplaas word, maar die probleem gaan saam en raak elke jaar groter en groter. Die kind begin mismoedig raak, voel minderwaardig, ontwikkel 'n lae selfbeeld en begin later met slegte gedrag in die klas; rook, boelie en is altyd in die moeilikheid.
In die laer grade leer die kind (om te) lees, maar van graad 4 moet hy lees om te leer.
'n Groot verskil.
Leesvaardigheid word ontwikkel en verbeter deur te lees, lees, lees. Lees moet oorheers in die grondslagfase.
Hoe kan die ouer hiermee help?
Sorg dat daar altyd boeke is om te lees en maak seker die boeke pas by die ouderdom van die kind.
Skep 'n gemaklike atmosfeer. Sit bymekaar en lees eers voor. Prys die kind vir die vordering wat gemaak word.
Ouers moet sterk oorweeg om ouer kinders wat steeds sukkel met lees, by 'n spesialis grondslagfase-onderwyser te kry om die basiese tegnieke van lees van voor af aan te leer.
Ouers moet volhou met die lees-ondersteuningsprogram - maak elke aand tyd vir lees. Maak die sessies aangenaam.
As jy nie opgewasse voel vir die wiskunde of wetenskap nie, gaan gesels met die mense by die skool. Daar is onderwysers wat die slimkoppe in die klas geleentheid gee om na skool klas te gee vir hulle maats.
Dit is goed as ouers, uit hulle eie, met betrokke leerkragte oor leerprobleme gaan praat.
Dit wys die ouer is in beheer, weet wat in die kind se boeke aangaan en is bekommerd. Raak betrokke.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'