Anoniem, Riversdal:
Liewe skool, wanneer moet my kinders tyd kry om kind te wees? Wanneer moet my kind weer die liefdevolle mamma sien wat hulle 'n paar jaar terug gehad het?
Hulle spandeer ses ure by die skool, daarna sport, dan huis toe en dan weer twee tot vier ure (soms langer) sit met huiswerk want ek het twee kinders.
Ek werk halfdag. Wat van die ouers wat voldag werk? By die graad een opedag word mens heuning om die mond gesmeer... 'Aan die einde van die jaar kan jou kind 'n boekie van voor tot agter lees.' Nee, nee... hulle ken 'n hele boekie uit hul kop, ja... maar lees kan hulle nie want vat jy die prentjie weg dan hap hulle bubbles. Waar is die kommunikasie? As ons as ouers ons kinders by die huis moet leer, kommunikeer ten minste met ons.
Stuur voorbeelde van hoe ons 'n som vir ons kind moet verduidelik. Stuur wenke huis toe om ons as ouers te help om ons kinders te leer lees... moenie net sê 'lees, lees, lees' as mens kom vra hoe ek my kind kan help nie, ens. ens. Julle kry ons kinders vars in die oggend... ons kry hulle wanneer hulle niks meer lus het vir werkies nie en eintlik maar net 'n bietjie wil speel. Dit is dan dat die heks in my uitkom, want die lus en die wil is net nie meer daai tyd van die dag daar nie. Nie ek of my kinders is dan meer lus nie, maar huiswerk moet klaar, anders kry die kinders strafpunte...
Ek het vir 'n rede nie onderwys gaan swot nie, ek betaal vir 'n rede skoolfonds. Ek wil egter weet dat wanneer 'n leerdertjie druip... is dit mamma se skuld, die juffrou se skuld of die skoolsisteem se skuld?