RIVERSDAL NUUS - Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) se fokus op funksionele geletterdheid van die Afrikaansgebruiker is onlangs deur 'n nuwe inisiatief aangevul.
Die Belgiese skrywer en SBA-vriend, Klavs Skovsholm het in vennootskap met die SBA 'n storie geskryf wat spesiaal vir die SBA verafrikaans is om binne hul konteks tot jong lesers te spreek.
Die storieboekie, Die Kokerboom sal aangewend word om 'n liefde vir lees onder jong leerders aan te wakker en hulle te lei tot selfstandige lees op hul eie vir ontspanning en verryking.
Die SBA se fokus op multitaligheid was die rede vir die samestelling van die storie in Afrikaans, sowel as isiXhosa.
Op dié wyse is dit toeganklik gemaak vir 'n wyer gehoor van Afrikaansgebruikers en ontwikkel kinders van jongs af 'n waardering vir hul moedertaal, maar ook die taal van ander om sodoende van mekaar te leer.
'n Aantal eksemplare is aan Voorwaarts Primêr se gr. 3-klas geskenk. Die skool vorm deel van die SBA se Zoë-leesprojek vir grondslagfase leerders wat sedert 2016 by 10 skole in die Hessequa-streek aangebied word en nagenoeg 100 leerders op 'n weeklikse basis by storievoorlesings betrek.
Tydens die oorhandiging van die storieboekies is agter, van links: Klavs Skovsholm, Patsy Juta (grondslagfase vakadviseur kring 1: Eden/Sentraal-Karoo distrik), die gr. 3-opvoeders, Colleen Drudi, Marlene Streicher en Nadia Kleynhans en Gershwin Cupido (administratiewe assistent: SBA). Voor is van die gr.3-leerders met die boekies wat eers voor Kersfees uitgedeel sal word.
ARTIKEL EN FOTO: ELIZE BLOM, SUID-KAAP FORUM JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'