SLANGRIVIER NUUS - Sowat 143 inwoners van die Asla Park-behuisingskema het Vrydagoggend 28 Februarie breed geglimlag.
Die lang gewag vir hul transportaktes as bewys van eienaarskap is uiteindelik verby.
Die begunstigdes is tydens verrigtinge in die plaaslike gemeenskapsaal deur Tertuis Simmers, Wes-Kaapse minister van nedersetting, toegespreek voor die oorhandiging. Die geleentheid is ook deur Gerald Boezak (wyksraadslid), Margaret Jakobs (portefeuljevoorsitter), asook rdle. Annemarie Joubert, Ben Smith en Thinus van den Berg bygewoon.
Jakobs het Simmers aan die aanwesiges voorgestel. Tydens 'n kort oorsig oor sy loopbaan het sy benadruk dat Simmers passievol oor sy werk is ten spyte van sy jong ouderdom: "Die Ben 10 van ons laat nie gras onder sy voete groei nie, alles wat hy aanpak, pak hy met oorgawe aan."
Simmers het gesê hy verstaan die inwoners se omstandighede, omdat hy ook in 'n Wet 9-gebied grootgeword het. Hy het hulle aangemoedig om hul transportaktes as 'n middel uit armoede te gebruik: "Pas dit op, moenie dat dit in die verkeerde hande beland nie."
Die aanwesiges is ook kortliks deur Roy Stewart (direkteur: grond en bates) ingelig oor die waarde van hul eiendomme en dat hulle die titelaktes soos goud moet bewaar: "Ons wil nie hoor julle het jul eiendomme vir 'n appel en 'n ei verkoop nie." Stewart het hulle ook oor die belang van 'n testament ingelig.
Chris Onrust (direkteur: Hessequa-gemeenskapsdienste) en Hermanus (HP) Michaels (plaaslike behuisingsbeampte) en hul span het ook die provinsiale personeel bygestaan.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'