STILBAAI NUUS - Die langtermynverhuring van Stilbaai se ongelisensieerde landing-strook, wat 'n openbare stuk grond is, sal 'n onherroeplike negatiewe impak op die Pauline Bohan-natuurreservaat (PBNR erf 238) hê.
Só sê dr. Janet Naudé, 'n inwoner van Stilbaai in 'n skrywe aan Suid-Kaap Forum.
Die PBNR is óf deel van die landing-strook óf grens daaraan, aldus Naudé. Dit is ook met die Geelkrans-natuurreservaat en beskermde mariene kusgebied verbind.
Sy doen 'n beroep op die Hessequa-munisipaliteit om te wys hulle is die "groenste munisipaliteit" en om daardeur hul lidmaatskap van die Gouritz Groep Biosfeer Reservaat te regverdig deur dié stuk openbare grond, naamlik die PBNR en die verlangde landingstrook by die CapeNature Stewardship Contract Programme te registreer, wat in 2009 deur die stadsraad goedgekeur is. Sy sê die raad het reeds vir die grensondersoek en -opmeting betaal.
Dit, sê Naudé, sal dié erfenis bewaar en daardeur die volhoubare potensiaal vir ekokulturele toerisme vervul. "Dis in belang van toekomstige generasies."
Volgens Naudé is 'n soortgelyke "duistere aansoek om onderverdeling" in April 2017 gedoen, maar die publiek, wat daarteen beswaar aangeteken het, is nooit oor die uitkoms daarvan ingelig nie.
Die gewese munisipale stortingsterrein is vervuil met rooikrans en is inderwaarheid 'n kritieke biodiverse gebied.
Die landingstrook is dus geleë in die hoogs sensitiewe stuk grond tussen die endemies spesieryke Canca-kalksteen en die kwesbare Albertinia-fynbos en sy toegangspad loop deur die klein (332 ha), maar globale betekenisvolle reservaat.
Naudé sê voorts die nasionale omgewingsbestuurswet (NEMA) vereis goedkeuring voor enige verlenging, verandering of opgradering van 'n fasiliteit binne 5 km van die geproklameerde grens van 'n natuurreservaat kan plaasvind. "Al beteken dit 'n klein gebied van minder as 300 vkm binne dié buffersone."
Die CMS-volhoubaarheidsverslag van 2009 het glo bevind dat die terrein ongeskik is vir enige vliegaktiwiteite.
Naudé sê dit maak meer sin om 'n geskikte terrein buite die dorp of 'n stuk reeds verwaarloosde stuk grond te identifiseer vir private aktiwiteite.
Dit kan aan Hessequa 'n meer sentrale brandbestrydingspunt en -kapasiteit gee, die vervoer van pasiënte vergemaklik en 'n ekonomiese lewenslyn verskaf sonder "die risiko van hoogs vlambare fynbos en vandalisme."
Vliegklub se kommentaar
In reaksie sê die Stilbaai-vliegklub (SBFC) is sy vliegklub geregistreer by die Suid-Afrikaanse Burgerlike Lugvaartowerheid (SACCA).
Daar is 2 500 landingstroke in Suid-Afrika waarvan slegs 101 geregistreer is.
Stilbaai-vliegveld (19 ha) het in 1975 beslag gekry en bouwerk is in 1979 voltooi. Die PBNR (332 ha) is in 1982 gevestig. Die vliegveld is apart van die PBNR gesoneer en val daarom nie binne die grense van die PBNR nie.
Die SBFC skryf hulle is heeltemal bewus van die omgewingsimpakvereistes van NEMA en is gereed om enige uitbreidings of veranderinge aan dié vereistes te toets.
Hulle sê egter die CMS-volhoubaarheidsverslag stel dit beslis nie dat "die terrein ongeskik is vir vliegaktiwiteite nie" en verder aan in die verslag word strategieë wel voorgestel wat die beste oplossing vorentoe is.
Strategieë voorgestel
- Finaliseer die afbakening van die vliegveld, wat reeds voltooi is.
- Begin 'n openbare private vennootskap tussen die verteenwoordigende liggaam, bestaande uit die huidige gebruikers en Hessequa om die fasiliteite te huur.
- Formuleer 'n huurooreenkoms wat die terme en voorwaardes duidelik uiteensit om 'n veilige, beveiligde en betroubare werkwyse vir die ongelisensieerde, geregistreerde private lughawe te verseker.
- Gaan voort om die gebruikers en inwoners van Stilbaai te diens ter wille van toerisme.
Die SBFC sê sodra die huurooreenkoms onderteken is, onderneem hulle om:
- Die eiendom te omhein.
- Hektoegangsbeheer te installeer.
- Om met die omgewingsimpakproses voort te gaan en om die allokering van bykomende terrein vir vliegtuigloodse en aanloopbaanverbeteringe, binne die grense van die vliegveldeiendom, goedgekeur te kry.
- Om SACCA-veiligheid en -nakoming vir 'n geregistreerde vliegveld na te kom binne die beperkinge van die eiendom.
Die bestuur van die vliegveld sluit ook die uitroeiing van uitheemse plantegroei in.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'