NASIONALE NUUS - Voorlopige resultate van die sensusopname van kommersiële landbou beklemtoon die belangrike rol wat die sektor in die land se ekonomie speel.
Agri SA het die bekendstelling van die Census of Commercial Agriculture (CoCA) verwelkom.
“Ons besef dat goeie besluitneming oor die spektrum aangeleenthede wat die landbou raak, op akkurate en betroubare inligting gegrond moet wees,” het dr. Requier Wait van Agri SA se sentrum van uitnemendheid se ekonomie en handel-afdeling op Dinsdag 24 Maart gesê.
Die opname sluit aspekte soos infrastruktuur, dienste, behuising, finansies en werksgeleenthede in.
Die voorlopige resultate bied ’n bondige oorsig van tendense rondom die landbou se rol as voorsiener van voedsel en vesel, asook strukturele veranderings wat waargeneem kan word te midde van veranderings in die plaaslike beleidsomgewing en globale mark.
“Die resultate dek slegs die kommersiële landbousektor se 40 122 kern boerdery-eenhede, daarom bly dit steeds moeilik om ’n volledige evaluasie van bydraes en tendense te doen ten opsigte van die hulpbronne wat hier uitgelaat is en wat tydens die landbou-transformasieproses verhandel word.”
Sleutelbevindinge wat deur Stats SA uitgelig word
- Die grootste persentasie plase is vir diereproduksie (33,9%), gevolg deur gemengde boerdery (31,1%) en die produksie van grane en ander gewasse (21,3%) benut;
- Die meeste plase is in die Vrystaat, gevolg deur Wes-Kaap, Noordwes en Noord-Kaap geleë;
- ’n Vergelyking tussen 2007 en 2017 wys dat tuinbou die grootste aanwas in persentasie van nasionale inkomste getoon het (17,4% in 2007 tot 19,8% in 2017);
- Oor dieselfde tydperk het gemengde boerdery die grootste persentasie verlies gely (32,7% na 28,6%);
- Limpopo het die grootste persentasie aanwas in nasionale inkomste gehad (7,4% tot 9,4%), gevolg deur Gauteng (7,8% tot 9,7%) en die Oos-Kaap (6,6% tot 8,1%). Die Wes-Kaap se inkomste het van 21,7% na 19,3% afgeneem;
- Persone in diens van die kommersiële landbousektor het oor die tydperk met 1,6% afgeneem;
- Tuinbou was die belangrikste kommersiële landbou-aktiwiteit, gevolg deur gemengde boerdery en diereproduksie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'