HESSEQUA NUUS - Water is 'n kosbare hulpbron wat spaarsamig gebruik moet word.
Met damvlakke in die streek op minder as die helfte te midde van die voortslepende droogte, is dit elke inwoner se plig om nie water te mors nie en waar moontlik te hergebruik.
Trapsuutjies-projekte, 'n beslote korporasie wat die Waterwise Ways-projek vir die Gourits-groepsbiosfeerreservaat (GCBR) implementeer, het bewys dat water met min koste gespaar en herwin kan word. Susan Botha, direkteur bedryf die projek wat uit twee hoofaktiwiteite bestaan, naamlik Fix n Learn en die Dysselsdorp-vleilandprojek.
"Die Fix n Learn-projek is daarop gemik om deernishuishoudings aan wie die Oudtshoorn-munisipaliteit elektrisiteit en 6 kiloliter water gratis verskaf, se waterverbruik te optimaliseer," sê Botha.
"Deur die ou, groot toiletwaterbakke te vervang en lekkende krane en waterpype te herstel, word tot soveel as die helfte minder water gebruik." As deel van die projek word huishoudings waterwys gemaak en geleer hoe om self lekplekke heel te maak.
Die De Rust-vleilandprojek wat in 2017 van stapel gestuur is, was die voorloper van die huidige Dysselsdorp-projek.
Papkuil wat aan vlotte vasgemaak is se wortels haal rioolafvalstowwe uit die water by Dysselsdorp-rioolwerke. Die plan kan by enige munisipaliteit toegepas word.
By die De Rust-rioolwerke is papkuil en fluitjiesriet op drywende eilande bestaande uit leë 2 liter-koeldrankbottels in 'n sak van skadunet geplant. Die plantwortels wat in die water hang onttrek skadelike rioolafvalstowwe uit die water wat dit geskik maak om in 'n vleiland vry te laat.
Die Dysselsdorp-vleilandprojek is op dieselfde beginsel geskoei, maar hier word drywende eilandstrukture van bamboes of rioolpype waaraan papkuilplante vasgemaak word, gebruik om afvalstowwe uit die rioolwater te onttrek.
Volgens Botha is die Oudtshoorn-munisipaliteit een van net 'n paar van die 880 munisipaliteite landwyd wat van so 'n kunsmatige vleiland gebruik maak om rioolwater te suiwer.
"Projekte soos hierdie skep volhoubare werkgeleenthede en die strukture bestaan uit natuurlike produkte wat water herwin sodat dit in die natuur teruggeplaas kan word. Indien toetsresultate wys dat chlorinering uitgeskakel kan word, kan plaaslike ekonomiese ontwikkeling ook gestimuleer word omdat die skoner water vir beperkte landbou- en ander inisiatiewe gebruik kan word.
Die beste van alles is dat soortgelyke projekte met min moeite en onkoste deur enige munisipaliteit aangewend kan word om rioolwater te herwin."
A unique process consisting of floating structures to which bullrushes are tied, removes waste by means of their roots from sewage at the Dysselsdorp sewerage so that clean water can be repurposed.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'