RIVERSDAL NUUS - Die Baleia Wines-bergfietsren wat vanjaar op Saterdag 8 September by Baleia Wines & Olive Oil se kelders net buite die dorp aangebied word, vind vir die derde agtereenvolgende jaar plaas terwyl velddrawwers en -stappers dit vir die tweede jaar kan aanpak.
Fietsryers kan tussen 'n 20 km- en 63 km-roete kies wat hulle van die kelders en proelokaal in die rigting van Albertinia sal neem met grondpaaie, asook enkel- en tweespoorpaadjies wat hulle deur Hessequa se landelike gedeeltes en plase sal neem. Daar sal een waterpunt op die 20 km-roete wees wat 'n klim van 320 m het, terwyl daar vier waterpunte op die 63 km-roete sal wees wat 'n klim van net meer as 800 m het.
Die veldwedloop (trail run) is verlede jaar vir die eerste keer aangebied en was uiters gewild.
Vanjaar kan hardlopers en stappers tussen twee afstande kies - 'n 6,5 km- of 16,5 km-roete wat bestaan uit grondpaaie en voetpaadjies wat deelnemers deur valleie en deur landerye en selfs 'n plantasie sal neem. Twee waterpunte sal op die langer roete wees, maar deelnemers word aangeraai om hul eie aanvullings saam te dra.
Inskrywings kan reeds aanlyn by www.baleiawines.com gedoen word, met vooraf inskrywings wat op 3 September sluit. Registrasie kan ook Vrydag 7 September by Baleia Wines se proelokaal gedoen word, terwyl deelnemers Saterdagoggend van 06:30 ook by die kelders en proelokaal kan inskryf vanwaar die bergfietsrenne, asook die veldwedloop begin en eindig.
'n Rustige, ontspanne atmosfeer by die kelders is ideaal om na die tyd te ontspan met goeie wyn en heerlike kos wat deur La Bella Restaurant en Deli verskaf sal word. Daar is ook pret vir die kinders.
Baleia Wines se algemene bestuurder en wynmaker, Abraham de Klerk, asook die eienaars, Jan-Hendrik en Lindi Joubert wat albei ywerige driekampatlete is en onlangs die Durban 70.3 half ysterman voltooi het, sien daarna uit om besoekers by dié geleentheid te verwelkom. Almal wat die eindpunt haal sal 'n medalje ontvang, terwyl daar ook gelukkige pryse sal wees.
Om vir die 20 km-bergfietsren in te skryf, kos R100 terwyl dit R200 kos om aan die 63 km-ren deel te neem. Albei renne begin om 08:30. Die inskrywingsfooi vir die kort 6.5 km-trail run kos R60, met die langer 16.5 km wat R100 kos. Vooraf inskrywings kry korting.
Die byeenkoms word moontlik gemaak deur verskeie vennootskappe met borge. Suid-Kaap Forum is mediaborg.
Al die inligting en inskrywings is beskikbaar by www.baleiawines.com
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'