Gallery Update
STILBAAI NUUS - Inwoners en besoekers kan opgewonde wees oor die opgradering van die Walvisuitkykpunt en die nuwe toegangspad vandaar na ses erwe in Skuitpadweg.
Die vestiging van die pad was onderhewig aan 'n besluit van die departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning nadat 'n wetlike omgewingsimpakstudie voltooi is, aldus Hessequa-munisipaliteit.
"Goeie samewerking tussen privaat grondeienaars, Stilbaai-belangeforum en die munisipaliteit het die opgradering van die uitkykpunt tot gevolg gehad. " Onderhoud, kostes en opgradering van die pad bly die ses erfeienaars se verantwoordelikheid. "Sonder hierdie eienaars wat die projek finansier, sou die uitkykpunt se parkeerarea nie herbou kon word nie," het Susan Geldenhuys, woordvoerder gesê.
Die munisipaliteit het logistieke ondersteuning aan die gemeenskapsprojek verleen.
Stilbaai-belangeforum sal die projek koördineer, wat 'n toonbeeld van gemeenskapsbetrokkenheid en omgewingsvolhoubaarheid is. Hulle fokus nou op die verfraaiing van die geplaveide parkeergebied. 'n Tuin gaan gevestig word en gaan bestaan uit inheemse plante, geskik vir die omgewing en wat min water benodig.
Dié tuin word reeds die 'Tuin op die Duin' genoem. Dit beloof om 'n sieraad vir besoekers te wees en ook die omgewing meer aangenaam te maak.
Op bankies wat aangebring gaan word, sal jy rustig die uitsig en omgewing kan bewonder.
Johan Jacobs, munisipale bestuurder sê: "Die opgradering is 'n spanpoging en word elke instansie en privaat grondeienaar betrokke bedank vir hul bydrae. Hessequa is bevoorreg om gemeenskapsorganisasies te hê wat belangstel om die omgewing te verbeter en deel te neem aan projekte tot voordeel van alle inwoners en besoekers."
Lees 'n vorige artikel hier: Al van tuin op die duin gehoor?
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'