HESSEQUA NUUS - Dis iewers in die toekoms. Verkiesingskoors wink, kruisies kan getrek, bederf en weerhou word...
Tóg is daar vreugdevrede! Almal smul aan boerewors en koesisters, krummelpap en chakalaka, bunny-chows en samoesas. Ons dans die seties, vastrap en die wals. Ons swaai gat, hip-hop en toi-toi. En ons braai, terwyl die vure knetter en die vryheidsvlamme ons drome ver(r)as.
Die oorblyfsels van apartheid, (omgekeerde) rassisme, pandemies, epidemies, natuurrampe, aardskuddings, brandverwoesting, verspoelings en nood- en rampstoestande woed egter voort.
En toe gebeur dáárdie ding…
Terwyl politici nóg leë beloftes basuin, gons dit op die sosiale platform(s) X (Y en Z) oor die onwaarskynlike, dog onvermydelike: die allerlaaste rugbykragmeting nog.
Skeidsregters se onvermoë om die reëls te interpreteer, spelers se betreurenswaardige gebrek aan dissipline en die toepassing daarvan, kykweer-beslissings wat punte omkeer en die telbord belemmer, kleurbeheptheid, borgskap-onttrekking en gewelddadige toeskouergedrag het sport vernietig.
Dok Danie Craven het uit sy graf omgedraai, vlerkies gekry en het reeds plek hoog bo-op die pawiljoendak ingeneem vir 'n titaniese stryd tussen die Bokke en Varings.
Weens verskerpte sigaret-, drank- en kitskoswette is daar nie meer geskikte borge nie. Die wetmakers meen hoe meer kinders aan sulke advertensies blootgestel word, hoe meer wil hulle rook, drink en vreet. Eksperimentering.
Daarom het die department van gesondheid, in samewerking met die department van opvoeding, dié kragmeting en uitsaairegte met 'n ruim bedrag (met die komplimente van die belastingbetaler) ingespuit.
Die spanne pronk op die veld en toe die Franse skeidsregter, Sluwe Slang, sy fluitjie blaas, mik die Springbokkaptein, Flink Ferreira, met 'n skepskop pale toe...
Die sweet tap en die afrigter, Wagter Wagenaar, maai in sy glashok met sy tweerigtingradio en gedekodeerde opdragte in ligspel al agter die wenspan aan.
Ons nerwe is gaar as die stilte bedaar…
En toe's daar chaos! Jy sien jy net liesrieme waai, ore en neuse en ander dinge word gebyt en die bloed spat!
Dis 'n orgie van testosteroon!
Sluwe Slang, fyntjies in pienk gelap, blaas sy fluitjie onbeheersd en hy en die kykweerbeslisser, Verneuk Vermaak, is in 'n warbekgeveg betrokke. Geel, rooi en ander kleurkaarte word na alle kante toe besweer.
Toe bestorm die skare die veld.
Die skytverkeerde Sluwe Slang se fluitjie is flou en hy blaas homself onhoorbaar van die veld af. Hy wou 'n hensop-vlaggie hys, maar sy lieslap was álles behalwe wit!
Tuis en op die reuse-stadionskerms kry die nasie nóg 'n skok, want daar is hy meteens wéér. Mense het gemeen hy is dalk kunsmatig en/of kosmeties aan 't uitsaai gehou, maar besef toe dis 'n robotkloon van 'n voormalige geliefde uitsaaier.
Agter die kloon rafel die Springbok-embleem uit. Groen en goue gare val uit die skerm vloer toe, terwyl 'n bok aan sy roesbruin-haarstuk smul...
Toe's die skerm pikgiet: die borgskap vir die uitsaairegte is na bewering nie betyds betaal nie. En niemand sal ooit weet wat regtig gebeur het nie...
Op die veld is daar egter chaos. Meteens verswelg allerlei balle - van rugby en krieket tot sokker, gholf en snoeker - die spelers, terwyl arende en voëltjies, kolskote en vloekskote, verbysterende sesse, verbroude vangkanse en mislukte strafdoele egos krenk…
En, doer bó op die pawiljoendak, rig Dok Danie sy oë bewoë, maar diep tevrede op die scoreboard...
Dié satiriese toekomsblik is in 2016 met die BASA-toekenning (National Arts Festival/Business and Arts South Africa) se Arts Jounalism Award in die afdeling News met die goue toekenning bekroon. Hierdie is 'n verkorte, bygewerkte 2023- weergawe van die oorspronklike teks.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’