Verskeie rolspelers, waaronder Kindersorg, die plaaslike kliniek en South Cape College het die groep vroue toegespreek oor verskillende onderwerpe. Rdl Annemarie Joubert, asook heelwat Xhosa-sprekende dames, pragtig geklee in tradisionele drag het het die verrigtinge bygewoon.
Bianca Adams van Kindersorg het kortliks die Kinderwet in perspektief gestel, asook regte van die vrou en kinders uitgelig. Sr Magda Schaap van die plaaslike kliniek het meer gesels oor papsmere, borsondersoeke en programme wat hulle vir vroue aanbied.
In 'n vraag wat die vrouens van Kwanokuthula wil doen om hulself te bemagtig, is 'n voorstel gemaak van naaldwerk met krale op tradisionele drag, asook 'n groentetuin om sodoende kos op die tafel te sit.
Dit het aan die lig gekom dat dissipline in skole steeds 'n probleem is.
Daar is verduidelik dat kinders gratis skoling ontvang by Voorwaarts en Panorama Primêre skole, dus kan ouers nie die verskoning gebruik dat hul nie fondse het om hul kinders skool toe te stuur nie. Die behoefte aan 'n kleuterskool in Kwanokuthula is ook uitgelig.
'n Boodskap dat opvoeding en respek tuis begin, is beklemtoon en die vroue is aangemoedig om dié beginsels by hul dogters en seuns tuis te bring.
'n Plaaslike kinderkoor het die gehoor vermaak met sang en van die Xhosa-dames het spontaan begin dans.
Die groot teenwoordigheid van Xhosa in dié woonbuurt het sterk na vore gekom, maar is daar heelwat inwoners wat nie die taal magtig is nie. Na afloop van die vergadering is daar heerlik gekuier om 'n bord kos.
Vroue by die vieringe, van links, voor: Bianca Adams (Kindersorg), Cheryl Beukes (skoolhoof: Voorwaarts Primêre skool) en Zanele Biyela. Agter staan Zodwa Combi, Nompelo Foslara, rdl Annemarie Joubert, sr Magda Schaap en Ntobeko (Rosie) Stride.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'