STILBAAI NUUS – Vanjaar se aanbieding van die Hessequa-kunsroete se uitstalling op dié pragtige kusdorpie het die ongerepte natuur van die Kleinbergskloof-olyfplaas benut.
Gaste het op die trappe en groen grasperk aan die oewer van die prentjiemooi Goukourivier aan ‘n gourmet-vingerete gesmul, wat deur Hennie en Suna Volschenk voorberei is.
In die swierige galery-ruimte het 35 van die streek se kunstenaars sowat 140 kunswerke in ‘n verskeidenheid genres en dissiplines ten toon gestel.
En hier het kuns, kwas en klei met stem en musiek versnit om ‘n klankryke, fynproe-ervaring te skep.
Die gaste is deurentyd met ‘n kabaretvertoning deur die skilder en sangeres Brenda Thomas en die pianis Johan Erasmus vermaak, terwyl akrobatiese dansers buite op die gras hul vernuf ten toon gestel het.
Dit was ‘n skildery van kuns en kultuur.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’