Update
RIVERSDAL NUUS - Lede van die Voortrekkerkommando op Riversdal, onderwysers van die drie Afrikaanse skole, die kurator van die Africana-sentrum, organiseerder van die dorp se Geloftefees en etlike ander kultuurtiere, was by die onlangse stigting van die plaaslike FAK-Kultuurnetwerk betrokke.
Riversdal is in 1838 gestig, dieselfde jaar as wat die Groot Trek begin het. Dié dorp is na Harry Rivers vernoem, destydse landdros van Swellendam.
'n Bundel wat Louis Henri Meurant in 1861 gepubliseer het, word beskou as die eerste boek in Afrikaans. Hy is in 1893 in die Meurant historiese begraafplaas in die middedorp begrawe.
Die dorp is ryk aan skrywers en kunstenaars. Die skilder Jan Ernst Abraham Volschenk, ook bekend vir landskapskilderye van die Langeberge, asook sy skilderes dogter Vera, was boorlinge van Riversdal.
CJ Langenhoven het op die dorp skoolgegaan en Daleen Matthee is hier gebore en het aan die Hoërskool Langenhoven matrikuleer.
Ook die skrywer Alba Bouwer het spore op die dorp getrap.
Die dorp se Groot Trek-monument met die fakkel, wat in 1938 opgerig is, is ook 'n belangrike stukkie erfenis.
Die FAK het verlede jaar ter viering van sy 90ste bestaansjaar besluit om kultuurnetwerke te laat herleef. Kort na sy stigting in Desember 1929 het die FAK kultuurrade in gemeenskappe te vestig.
Die eerste kultuurraad is in 1930 in Pretoria gestig en kort daarna het die kultuurvlam feitlik in elke dorp in Suid-Afrika, helder gebrand.
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sê plaaslike kultuurrade het soos baie ander kultuurorganisasies na 1994 verdwyn, wat 'n groot verlies vir die Afrikaanse taal en kultuur beteken het.
Die FAK-Kultuurnetwerk op Riversdal is die sesde wat in die Wes- en Oos-Kaap gestig is.
Die ander is in die Paarl, Graaff-Reinet, Port Elizabeth, Heidelberg en Mosselbaai. Daar is 15 FAK-Kultuurnetwerke landwyd.
Enigiemand wat by dié kultuurnetwerk op Riversdal, of by een van die ander betrokke wil raak, kan vir Elizma Smith kontak by elizma@fak.org.za.
Aan die voorfront van kultuurbevordering in Riversdal is, (voor, van links) Ena Geldenhuys, Evelyn en Anton du Toit, Elizma Smith en Tielman Roos. Agter: Marius Jackson, Kristia van Wyk,), Tess van Wyk, Hennie Joubert, Tersia Muller, Louise du Plessis, Marilise Lombard, Lettie Murray, Karien Coetzee, Martha de Beer.
Vorige artikel: FAK-Riversdal stig kultuurnetwerk
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'