HEIDELBERG NUUS - Die Breederivierdistriksraad-Heidelbergtak van die Methodiste kerk van Suider Afrika, onder leiding van distrikleiers Mzimkulu Mbiyo en Lucas Situkutezi het Sondag, 18 Julie ter viering van internasionale Mandeladag kospakkies aan vier gesinne geskenk.
Tydens die oorhandiging het Situkutezi Psalm 46 aan die begunstigdes voorgehou.
Hy het Madiba se lewensverhaal kortliks geskets en sy belangrike rol in die bevrydingsstryd voorgehou. Verder het hy benadruk dat Mandela 'n brugbouer van nasies en ook 'n baie vrygewige persoon was.
Hy het bygevoeg dat hulle as kerk bewus is dat die kospakkie nie aan al hul behoeftes sal voorsien nie, maar die hoop uitgespreek dat dit 'n verskil sal maak. Mbiyo het die verrigtinge met 'n gebed afgesluit.
Lucas Situkutezi en Mzimkulu Mbiyo staan by van die persone wat kospakkies ontvang het. Foto: Clive Pretorius
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'