ALBERTINIA NUUS - Hessequa-munisipaliteit ondersoek bewerings van onregmatighede met die uitdeel van kospakkies wat vir behoeftiges bestem is. Die munisipaliteit het die aksie op 10 April uitgevoer.
'n Paar inwoners het aan Suid-Kaap Forum gesê dat 'n raadslid, Ivan Mangaliso en 'sy helpers' die oorspronklike pakke oopgemaak en die inhoud in die helfte gedeel het voor dit afgelewer is. Foto's van die pakkies wat op sodanige halvering blyk te dui, is aan die koerant verskaf.
Verdere aantygings was dat mense wat werklik nood het, oorgeslaan is. Volgens inwoner Eric Pietersen, is kos by persone wat steeds salarisse ontvang, afgelaai.
Munisipale bestuurder, Johan Jacobs, het soos volg op navrae gereageer: "Hessequa-munisipaliteit het soortgelyke navrae ontvang en dit is na die kantoor van die speaker verwys wat besig is om die bewerings te ondersoek. Die munisipaliteit poog om aan die mees hulpbehoewende gesinne 'n goed saamgestelde kospakkie te voorsien en werk voltyds saam met Garden Route-distriksmunisipaliteit en departement sosiale dienste om nog hulp te bekom."
Mangaliso het op Sondag 12 April aangedui dat hy besig is met 'n volledige verslag oor die kriteria wat gevolg is om te bepaal wie die ontvangers van die kospakkies moet wees, asook die metode waarvolgens uitgedeel is. Dié verslag sal op 16 April aan die raad voorgelê word.
- Die munisipaliteit versoek inwoners intussen om enige navrae rakende die kospakkies aan hul kantoor te rig.
Munisipale werkers besig om af te laai.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'