Update
RIVERSDAL NUUS - Die gulhartigheid en goedheid van Hessequa se inwoners ken geen einde nie. Kosskenkings vir Becca's Soup Kitchen in Kwanokuthula stroom, soos die welkome reën die afgelope paar dae, steeds in.
Een van die roerendste tonele wat hom nog by Suid-Kaap Forum se kantoor in Heidelbergweg 29 afgespeel het, was verlede Vrydag toe twee pensionarisse van Stilbaai spesiaal deurgery het om hul skenking hier te kom aflaai.
Hul passasiersmotor se kattebak was volgepak met 'n groot verskeidenheid groente, vrugte en sopmengels (sien foto). 'n Derde pensionaris, ook van Stilbaai, het bygedra en hulle het die kosvoorraad in Mosselbaai gaan aankoop.
Albertinia Alba Supermarket het saam met korrespondent Heinrich Fortuin 'n fris pak met kruideniersware aangestuur.
Hierdie vrag kos is 'n skenking van drie pensionarisse in Stilbaai. Hulle het spesiaal gery om dit verlede Vrydag in Riversdal te kom aflaai.
Nog 'n sak patats en 'n groot pampoen is deur 'n plaaslike boer afgelewer. Sy landery is nou leeg, sê hy, maar hy sal weer later vanjaar groente bring.
En 'n 80-jarige inwoner van Riversdal het vir 'n tweede keer 'n bydrae gebring. Brood, groente, waaronder 'n groot kopkool en uie, en ook sopmengsels.
Dis mos omgee vir jou medemens. Mens kan dit nie werklik in woorde beskryf nie.
"Baie dankie " klink na so min, maar dit kom diep uit die harte uit van almal wat aan die ontvangkant is van die uitreikaksie. Om die dankbaarheid in 'n honger mense se oë te sien as hy of sy 'n bakkie warm sop kry - en dit het die uwe Maandagmiddag by Rebecca se sopkombuis persoonlik ervaar - roer jou hartsnare. Selfs die hardvogtiges onder ons sal 'n traan wegpik. Glo my.
Riversdal, Stilbaai, Albertinia, daar is 'n klomp engele in jul midde.
Albertinia Alba Supermarket het saam met korrespondent Heinrich Fortuin 'n fris pak met kruideniersware aangestuur.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’