Update
HEIDELBERG NUUS - Met inbrake en diefstal wat tans hoogty vier in die dorp en op plase in die streek, veral die diefstal van koperkabels en -pype, is daar 'n ernstige pleidooi vanaf die plaaslike polisie aan alle inwoners om nie gesteelde goedere aan te koop nie.
Volgens sers. Imorgene Hen-dricks, plaaslike mediabeampte, neem die soort misdaad teen 'n vinnige tempo toe en skep die kopers 'n mark vir diegene wat daarop uit is om te steel.
Sy noem dat sekere inwoners wat so gereeld die diewe se "winskopies" koop, deeglik daarvan bewus is dat die goedere onwettig bekom is.
"Die kopers van dié goedere maak dit maklik vir die diewe om van hul gesteelde goedere ontslae te raak. Weerhou julle asseblief om hulle so te ondersteun," het Hendricks benadruk.
Sy waarsku verder dat daar baie streng teen die kopers van gesteelde goedere opgetree sal word en versoek ook inwoners om meer oplettend te wees waar en hoe hulle hul goedere wegbêre.
"Wees asseblief baie versigtig en oplettend hoe en waar julle jul kosbare besittings stoor. Sluit ook gereeld jul huise al gaan julle net vinnig winkel toe."
Verlies van koperpype en diesel
Daar word ook op 'n gereelde basis byna elke week kabels in die dorp en op plase beskadig en gesteel. Een so 'n plaasboer, Marius Kluyts, loop gereeld onder diewe deur en sê hy het al etlike duisende rande verloor as gevolg van diefstal van koperpype en diesel.
Volgens Kluyts het hy weer Donderdag 21 Julie groot skade gely toe diewe twee van sy trekkers se dieseltenks stukkend gesteek en 700 liter diesel laat uitloop het. Hulle het ook vier kanne weggedra.
"Die skade beloop nagenoeg R17 000 en die tenks sowat R40 000," sê Kluyts.
Daar is ook glo by De Waal-ville Primêr se toilette die afgelope naweek ingebreek. Toe die personeel Maandagoggend aan diens kom, het hulle opgelet dat die koperpype gesteel is.
Intussen is 'n 57-jarige man van Heidelberg Vrydag 22 Julie in Maitland, Kaapstad by 'n skrootwerf in hegtenis geneem op aanklag van besit van gesteelde eiendom.
Hy is borgtog van R5 000 toegestaan en die saak is tot Vrydag 2 September vir verdere ondersoek uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'