STILBAAI NUUS - Die strafsaak wat gedurende 2011 teen voormalige prokureur Koos Grobbelaar begin is, is iets van die verlede en dit is teruggetrek.
Dit is volgens 'n hofbevel wat in besit van Suid-Kaap Forum is. Die hofbevel is op 16 Mei deur die hooggeregshof in Kaapstad uitgereik en is ook telefonies bevestig deur sy prokureur, Carmine Pecoraro van PW Hoffman-prokureurs. Grobbelaar wou self geen kommentaar lewer nie, maar het wel die hofbevel bevestig.
Volgens die hofstukke is die vervolging teen Grobbelaar beweerdelik van die begin af deur growwe onreëlmatighede gekenmerk. Afgesien van prosedures wat nie korrek gevolg is nie, is die saak veral verydel deur die beweerde onregmatigheid en onwaarhede wat deur die staat se verteenwoordigers in die proses ingevleg was.
Die erge gesloer en grondwetlike bepalings wat ook beweerdelik geskend was, het alle kanse op 'n regverdige en billike vervolging gekelder. Grobbelaar het die hoogge-regshof in Kaapstad met 'n aansoek genader wat 'n bevel uitgereik het dat alle vervolging teen hom permanent gestaak word.
'n Onverkwiklike gevolg van hierdie bedenklike vervolging is dat klagtes van meineed teen die staatsaanklaer aanhangig gemaak is.
Die koerant het kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, gekontak wat al die inligting vir die vorige beriggewing verskaf het, om uit te vind hoekom die saak teruggetrek is.
Die strafsaak wat gedurende 2011 teen voormalige prokureur Koos Grobbelaar begin is, is iets van die verlede en dit is teruggetrek.
Volgens hom kan hy slegs bevestig dat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) wel die sake teruggetrek en besluit het om nie voort te gaan met vervolging teen Koos Grobbelaar nie. "Ongelukkig kan ons nie die rede vir die terugtrek van die sake bekendmaak nie."
Hy het die koerant na die NVG verwys, maar teen druktyd is geen kommentaar ontvang nie.
Die koerant het ook twee briewe in verband met die saak ontvang wat op ons brieweblad verskyn.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'