Update Video
ALBERTINIA NUUS EN VIDEO - Albertinia se gemeenskapspolisieforum (GPF) het Woensdag, 20 Oktober hul eerste imbizo vir die plaaslike gemeenskap in die stadsaal aangebied.
Kaptein Susan Botha, stasiebevelvoerder van die plaaslike polisie het die misdaadstatistieke deurgegee en gevra dat alle inwoners hulle veiligheid moet opskerp.
"Ons wil weereens beklemtoon dat dit belangrik is om nie waardevolle items in jul voertuie te los nie, hetsy dit in die dorp, by vriende of familie en selfs by die huis is nie. Dit is 'n ope uitnodiging aan 'n misdadiger om dit te steel," het sy benadruk. "Dit geld ook vir huishoudelike items wat oop en bloot, veral snags in die erf rondstaan soos grassnyers, ander tuingereedskap en ook fietse."
Nita Wessels, GPF-voorsitter het 'n kort oorsig oor die veiligheidsprojek gegee wat afgehandel is, soos die ANPR-kamera-installasies, die aansoek vir beligting op die N2 en verskeie vreedsame optogte wat gereël is vir bewusmaking van geweld teen vroue en kinders, asook misdaad en dwelmhandel.
Dit was 'n passievolle vergadering waar verskeie rolspelers en gemeenskapslede hul kommer uitgespreek het oor die stygende misdaad en tekort aan polisielede.
'n Besluit is geneem dat almal teenwoordig met hul bure oor veiligheid by die huis sal gesels.
VIDEO: Imbizo spreek veiligheid aan
VORIGE ARTIKEL: Eerste imbizo op Albertinia
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'