TUINROETE NUUS - As jy op jou eie voortploeter met jou Afrikaanse skryfwerk, is daar hoop.
Jy kan 'n bekostigbare ASB- oftewel Amateur Skrywersbond-skrywerswerkswinkel bywoon en so die vuurtjie van kreatiwiteit weer aansteek om van daardie klomp los papiere in jou bokse iets te kan maak wat jou skryfvermoë bevestig.
En as jy nie daar kan wees nie, kan jy jou skrywes per e-pos stuur en kommentaar daarop ontvang met raad en wenke hoe om dit te verbeter, heeltemal gratis.
Die werkswinkel vir stokperdjieskrywers en digters vind op Saterdag, 11 September van 09:00 tot 13:00 plaas in 'n lokaal in die Hartenbos/Mosselbaai-omgewing wat nog gefinaliseer word. Alle Covid-19-protokol word gehandhaaf en deelnemers moet kan bevestig dat hulle ten minste een inspuiting ontvang het.
Koste sal afhang van hoeveel skrywers kom en nie R130 oorskry nie. Dit sal koffie en beskuit insluit.
Die aanbieder van die werkswinkel is Ernie Mellet, hoofraadgewer van die Amateur Skrywersbond wat in 2013 gestig is. Hy is 'n roman- en kortverhaalskrywer en digter. Die ASB word nie-winsmakend bedryf en die opleidingsnuusbrief, Moti-VR gaan tans aan 400 skrywers regoor SA en oorsee. Die ASB het reeds drie merietetoekennings van die ATKV vir taalbevordering ontvang.
Die aanbieding bestaan uit 'n kleurvolle, 70-skyfie Power Point-projeksie wat baie aspekte van skryf dek: Waar kom stories vandaan? Waarom is hulle soos kolwyntjies? Teks en dialoog, karakters, emosie, taal, leestekens, uitleg en publikasie.
Groeppublikasies van die ASB en Mellet sal te koop wees teen onder kosprys. Dit sal sy 300 A4-bladsyhandleiding met 'n DVD, riglyne vir amateurskrywers, insluit.
Kontak Mellet vir besprekings, navrae en skryfwerk (079 333 0055/erniemellet@gmail.com)
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'