HESSEQUA NUUS - Pakama opkomende boere wat bereid was om op verkiesingsdag en te midde van die oesseisoen hul tyd op te offer toe hul hulp gevra is, was sommer op twee maniere beloon.
Dr Oubaas Retief, 'n veearts van Caledon het op 1 en 2 November Platkop-boerdery se merinostoet buite Riversdal se gereelde laparoskopie gaan doen.
Daar bestaan 'n lang verbintenis en goeie verhouding tussen die Pakama-kleinboere en Platkop-boerdery, daarom het Jac Saayman die vrymoedigheid gehad om die opkomende boere om hulp te vra.
Die reaksie was baie positief en die geleentheid kon ook gebruik word om die kleinboere aan hierdie metode van teling bekend te stel.
As blyk van waardering vir die hulp, asook om dankie te sê vir goeie samewerking het Platkop-merinostoet besluit om 'n Poenskop-merinoram aan die boere te skenk en sodoende ook 'n bydrae te lewer tot die verbetering van hul skaapboerdery.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'