ALBERTINIA NUUS - In 'n vertrek by die Verenigde Gereformeerde Kerk (VGK) in dié dorp werk kleuters aan projekte terwyl die onderwysers toesig hou en hulle ondersteun.
Prof. Erwin Schwella, hoof van die skool vir publieke leierskap verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch, het in 2017 vir Boy van Rensburg ingelig oor die model wat Shiloh-skole gebruik.
Hy het voorgestel dat daar moontlik so 'n skool hier gevestig kan word. Na verskeie gesprekke met die Shiloh-skool se verteenwoordigers en plaaslike belangstellendes is Van Rensburg en 'n klompie inwoners met 'n bussie na die Kaap waar hulle meer inligting ingewin het.
Die afvaardiging het met hul terugkoms die senior bestuurders van die Shiloh-skolegroep genooi om die dorp te kom besoek, ten einde die gemeenskap deeglik in te lig oor die Shiloh-konsep. Arita Terblanche, 'n ervare afgetrede onderwyseres, saam met 'n paar vrywilligers en donateurs het die skooltjie, wat as Smiling Ducks Educare bekendstaan, begin vorm gee.
Volgens Terblanche het die 'skooltjie' in Januarie vanjaar sy deure vir agt kleuters oopgemaak en vandag spog hulle met 45 leerders. Hulle hoofdoel is om die kleuters tussen 2 en 5 jaar, in sterk beginsels volgens die Shiloh-metodiek op te voed sodat hulle Graad R gereed kan wees.
Terblanche het gesê: "Die kostes om 'n Shiloh-skool behoorlik te vestig is redelik hoog, omdat leermiddels van hoë gehalte is. Onderwysers moet dan nog opgelei word om die prosesse te volg teen 'n gemiddeld van R10 000 per onderwyser.
Vier leerders word tans deur weldoeners op die dorp geborg. Hulle kry elke dag ontbyt en middagete. Ek wil graag Xhosa as 'n vak aanbied en is op soek na iemand wat hiermee kan help.
DA Woman's Network (DAWN) het Donderdag 17 Mei die kleuters met mussies verras." Rita Britz en Dalene von Willigh het die mussies gebrei en uitgedeel.
Enige navrae oor die Smiling Ducks kan aan Arita Terblanche by 061 542 3192 gerig word. Vir meer inligting oor die Shiloh-proses skakel Boy van Rensburg by 083 604 2108.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'