Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Kindersorg SA se taak is soms hartverskeurend.
'n Tienjarige kind is by sy ma weggeneem omdat sy nie in staat was om vir hom te sorg nie. Weens die trauma wat die jong kind in sy disfunksionele ouerhuis ervaar het, kon hy ook nie in 'n veilige huis waar hy in pleegsorg geplaas is, regkom nie. Die grootste uitdaging is om hom in 'n jeugsorgsentrum geplaas te kry.
Dis 'n tipiese hartseer voorval waarmee die personeel gereeld te doen kry.
"Ons wil kinders beskerm en hul welstand bevorder," sê Bianca Adams, bestuurder.
"Ons probeer alles om te verseker dat kinders in hul gesinne bly. Die heel laaste keuse is om hulle in 'n sentrum te plaas."
Fotogalery: Kindersorg Riversdal sorg
Tans is 83 kinders in 50 veilige huise in pleegsorg, want broers en susters word saam geplaas. "Die aantal kinders in pleegsorg neem af en ons skryf dit daaraan toe dat ons voorkomend optree. Die hele gemeenskap - bure, familielede, onderwysers, ander organisasies, klinieke en die polisie - is ons oë en ore. Hulle meld probleme by die maatskaplike hulpwerker aan wat dit dringend opvolg. Sodoende kan ons gou ingryp."
Kyk 'n video hieronder:
Dis die eerste stap. "Die ouers sluit met ons 'n kontrak waarin hulle onderneem om sekere stappe te doen om die gesin bymekaar te hou. As dit nie werk nie, moet ons statutêr teen hulle optree, maar hulle kry nog drie maande om weer te probeer."
As die pogings onsuksesvol is, word die kinders in 'n veilige huis in pleegsorg geplaas.
"Pleegouers beskou nie hierdie kinders as 'n las nie - hulle gaan uit hul pad en beskou hulle gewoonlik as hul eie."
Nie enigiemand kan 'n pleegouer word nie: daar is 'n streng keuringsproses en hulle mag byvoorbeeld nie 'n kriminele rekord hê nie. Hulle deurloop ook opleiding sodat hulle die gevaartekens van mishandeling, verwaarlosing en misbruik by kinders kan herken.
Wanneer die kinders nie in pleegsorg aard nie, is die volgende stap plasing in 'n jeugsorgsentrum. "Daar is verskeie sulke sentrums in die Suid-Kaap, maar nie in Riversdal nie. Personeel by hierdie sentrums werk hard om vir die kinders 'n huis weg van die huis te skep. Maar die doelwit bly altyd om gesinne te herenig." Volgens Adams is die droom om 'n veilige huis in die dorp te skep waar kinders oor naweke, wanneer dit soms maar rof by die ouerhuis gaan, veilig versorg kan word. Intussen help Kindersorg SA dat inwoners wat nie kos in die huis het nie, ten minste een warm maaltyd 'n dag eet. "Ons gee tans 68 mense by die sentrum kos," sê sy.
Vorige artikel: Kindersorg gee om
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'