Gallery Video
HESSEQUA NUUS EN VIDEO - Oorspronklik, kleurryk, diepdenkend en kreatief. Só beskryf die keurders die inskrywings van die tweede kinderkunsprojek wat deur die Hessequa-kunsroete, in samewerking met die streek se dorpsbiblioteke, aangebied is.
Vanjaar se tema was "Met 'n lied in my hart" en het altesaam 246 inskrywings gelok. Leerders van gr. 5 tot 7 het deelgeneem.
Die keuringspaneel, gekoördineer deur die BASA-bekroonde kunsjoernalis en -resensent Christiaan J de Swardt, en van Hessequa se kundigste, beeldende kunstenaars - Marlise Lombard, Sonja Margerison, Danie Cronjé, Anette Fell en Jetske Fouché - het aanvanklik elk vyf gunstelinge gekies waarna die werke beoordeel is.
Oorspronklikheid, kreatiwiteit, verbeelding, atmosfeer, tegniek en kleurgebruik was deel van die kriteria.
FOTOGALERY: Met 'n lied in my hart kunswerk
Ná 'n deeglike beoordelingsproses is die 12 indruk-wekkendste inskry-wings gekies.
Uiteindelik het elke beoordelaar met kleurstrokies gestem om die beste werke aan te wys. Daar is vyf wenners, asook 'n aantal merietewenners aangewys.
VIDEO: Hessequa Kunsroete wys wenners aan
Die terugvoer van die beoordelaars was as volg:
"Wat 'n wonderlike ervaring vir jong kinders om kreatief te kan wees. Ons het veral die oorspronklike uitbeeldings waardeer; daarom is die enkele natekeninge 'n jammerte.
"Kinders verdien meer sulke geleenthede om skeppend te kan wees."
- Anette Fell
"Die gehalte van die inskrywings was bogemiddeld as die ouderdom van die kunstenaars in ag geneem word. Sommige was werklik kreatief en die kinders is uiters talentvol. Dis jammer dat daar kunstenaars is wat nie 'n toekenning kry nie."
- Danie Cronjé
"Die kwistige gebruik van kleur, tekstuur en oorspronklike idees maak my opgewonde oor al die potensiaal wat in ons skole opgesluit lê."
- Jetske Fouché
"Die tema is goed deurdink en met vreugdekwaspassie, selfvertroue, sterk tegniek en verrassende geesdrif uitgebeeld." - Sonja Margerison
"Dit is kinderkuns uit die boonste rakke! Met 'n lied in die hart het die kinders hul verbeelding vlerke gegee en ontvlug na hul eie droomwêreld om kleurryke, vrolike stories met verf en 'n kwas te vertel. Kuns het nie 'n eindstreep nie. Dit bly 'n bodemlose put..."
- Marilise Lombard
Al hierdie werke sal saam met 'n verdienstelike keur uit die ander inskrywings, soos deur die kurator Louise Kluyts gekies, tydens die Hessequa Harmonie-kunstefees in Heidelberg van 20 tot 24 September ten toon gestel word.
'n Keur uit die 246 inskrywings wat vir die tweede kinderkunsprojek vir die Hessequa-kunsroete, in samewerking met die streek se biblioteekdienste, aangebied is.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'