Saayman, bekende afgetrede skoolopsigter en traumakamer vrywilliger berader beywer hom al sedert 2004 om die vele kinders wat volgens hom mindergegoed in die samelewing is, op Kersdag ten minste met 'n heerlike ete te trakteer.
Volgens hom het hy die vorige Kersdag baie kinders op straat gesien rondloop, wat hom oortuig het dat hulle nie soos ander kinders 'n veilige hawe het om die besonderse dag met 'n heerlike ete te vier nie.
"In 2004 het ek my vrou Rose oortuig dat ons iets aan die kinders se lot moet doen en 20 kinders geïdentifiseer om 'n Kersete vir hulle te voorsien". Saayman noem verder dat hy kapt. TC le Roux genader en sy bekommernis met haar gedeel het. Sy het hom aanbeveel om 'n skrywe aan die plaaslike GPF te rig met sy versoek en sedertdien het die getal kinders elke jaar vermeerder.
'n Ete vir 200 kinders was op Kersdag gereël. Saayman vertel met 'n breë glimlag dat met hierdie poging in die Duivenhoks gemeenskapsaal meer rolspelers betrek is, waaronder die Hessequa munisipaliteit en sekere plaaslike besighede om dié dag onvergeetlik vir die kinders te maak. "Ek wil graag vir rdl. Emor Nel, uitvoerende burgemeester bedank dat sy die funksie ondersteun, bygewoon en die kinders kortliks toegespreek het."
Verder bedank hy al die donateurs en vrywilligers wat op dié spesiale familiedag hul tyd opgeoffer het vir hul onbaatsugtige bydrae om kinderharte te verbly. Nel het Saayman ook bedank vir sy inisiatief en geskenke aan al die vrywilligers oorhandig.

Die groep kinders het heerlik gesmul aan 'n Kersete wat deur Raymond en Rose Saayman en ’n paar vrywilligers voorgesit is. Foto's: Clive Pretorius.