Gallery Update Video
HEIDELBERG NUUS - Die dorp se strate is op 12 Oktober vir 10 minute lank deur 'n groep singende, dansende mense oorgeneem.
Lede van die Congregational Kerk het in kleurryke tradisionele drag deelgeneem aan 'n optog as deel van die feesvieringe om die kerk se 163ste bestaansjaar te herdenk.
Die feestelikhede het Woensdag 9 Oktober met voorbidding, gevolg deur 'n talentaand wat deur die jeug gereël is, afgeskop.
By die kerk het die besoekende leraar, eerw. Johannes Muggels van Oudtshoorn, die jaarlikse basaar geopen. Die feesgangers kon iets van alles - koeke, terte, bordjies afval en potjiekos, kerrie en gebraaide vleisstukke teen bekostigbare pryse koop.
Vanjaar was die tema Afrika! Die tafels was met pragtige tradisionele behangsels, tafeldoeke, ysterpuntspiese en hier en daar selfs 'n boog met 'n koker vol pyle opgetooi. Die tafels, die venues en selfs die vroue was in 'n fees van kleur met hooftooisels, tradisionele drag en bypassende grimering getooi.
Gedurende basaartyd het elke wyk en buitewyk een of meer tafels met tuisgebak en allerhande versnaperinge aangebied. Die opbrengs van die verkope is aan die kerk geskenk.
Die basaar bring ook ou vriende bymekaar, want mense wat stad toe verhuis het of daar werk, kom spesiaal huis toe wanneer die basaar gehou word.
Muggels het Sondag die diens in die volgepakte JF Neumann Gedenk Congregational Kerk gelei. Die tema was In Christus gewortel. Hy is bygestaan deur eerw. Johannes Paige, 'n boorling van Heidelberg wat nou in Oudtshoorn werk. Oudtshoorn Congregational Kerk se koor het opgetree, terwyl Pacaltsdorp se Praise and Worship-groep die gemeente opnuut in vervoering gehad het. Lede van Calitzdorp se gemeente het ook die fees bygewoon. 'n Kort konferensiediens, waartydens die jaarverslag van die kerk voorgelê is, is vroegmiddag in die kerksaal gehou,.
Albei predikante was vol lof vir die flinke werk van die betreklik jong en nuwe kerkraad, asook die res van die leierskap wat nou die leisels van die kerk in hul hande hou.
Lees 'n vorige artikel hier: Congregational kerk vier fees in Heidelberg
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'