Update
RIVERSDAL NUUS - Dít wat eens 'n statige gebou was wat menige toeris gelok het, staan vandag vervalle en verwaarloos...
Riversdal-stasie is vanjaar 81 jaar oud - en dit is duidelik aan sy toestand te bespeur, omdat dit reeds vir jare leeg staan en net af en toe 'n kits 'make over' kry... so 'n vinnige lagie verf om al die graffiti toe te maak.
Elke ruit in die gebou is gebreek.
Die voordeur wat kwajongens tot dusver nog uitgehou het, is oopgebreek en elke vertrek binne is met rommel besaai.
Buite is dit net so 'n seeroog en kan mens jouself net voorstel wat buitelandse en plaaslike toeriste wat op gereelde basis met 'n stoomtrein hier aandoen moet dink.
Suid-Kaap Forum het al herhaaldelik oor die swak toestand van die plaaslike stasiegebou berig en ook navraag aan Transnet gerig om uit te vind wat hulle met die gebou beoog en of hulle dit gaan opknap.
Op 30 Oktober is daar weer 'n e-pos aan Transnet gestuur met bygaande foto's.
Mike Asefovits, senior bestuurder het soos volg daarop reageer: Transnet Freight Rail has engaged with representatives of the Hessequa Municipality, at their request, to explore the possible repurpose of Transnet land, as well as other possible business opportunities to stimulate economic growth for the local municipality and greater Western Cape region.
Rommel lê oral gestrooi.
A follow-up meeting between the parties is scheduled for 15 November where more concrete plans will be tabled.
Once the parties have agreed on the way forward, we will be in position to share these plans (including the Riversdal station building) with the media and local community.
By navraag het die munisipale bestuurder, Johan Jacobs, gesê dat die munisipaliteit Transnet gekontak het oor die agteruitgang van die Transnet-geboue op Riversdal, Heidelberg en Albertinia.
"Eienaarskap van hierdie eiendomme berus by die departement openbare werke, al is dit toegeken aan 'n spesifieke departement of semi-staatsinstelling soos Transnet."
Hessequa het Transnet versoek om die geboue en gedeeltes langs die treinspore wat met onkruid begroei is in stand te hou en te werk aan 'n langtermyn plan oor die toekoms van die eiendomme, soos langtermyn verhuring, beskikbaarstelling aan die munisipaliteit of permanente vervreemding as dit nie benut word vir Transnet doeleindes nie.
Die toestand binne is haglik. Vensters en 'n deur is met stene toegebou om indringers uit te hou.
Jacobs het verder genoem dat die munisipaliteit in gesprek is met die minister van staatsondernemings, Lynne Brown oor die volgende:
- die herinstel van 'n passasiersdiens tussen die dorpe deur Prasa
- die herinstel van 'n vragvervoerdiens deur Transnet
- gebruikmaking van die spoorlyn deur toeristetreine wat kan oornag binne Hessequa en
- die toekomstige gebruik van vragvervoer vir die vervoer van vaste afval na die toekomstige streekstortingsterrein naby die Mossgas-gebied op Mosselbaai sodra Hessequa se terreine vol is.
"Onbenutte staatseiendom lei tot verval en agteruitgang en skaad die beeld van 'n dorp.
"Hessequa is en bly verbind tot goeie samewerking met alle staatsorgane en vertrou dat hierdie gesprekvoering en onderhandelinge sal lei tot verbeterde dienslewering en benutting van die infrastruktuur," het hy afgesluit.
Lees 'n vorige artikel: Historiese gebou vervalle
ARTIKEL & FOTO'S: WILMA ADAMSON, SUID-KAAP FORUM REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'