Update
STILBAAI NUUS - Die Just Wheels Eksotiese-motorklub van Stilbaai het Saterdag 10 Junie by Lapskuit in Stilbaai byeengekom om te spog met hulle motors.
Meeste van die motors daar was in die sestigerjare baie gewild en hulle eienaars was byderhand om hulle motors se unieke karakter aan die nuuskieriges te verduidelik.
Onder andere was Hennie Stander daar met sy Ford Zodiac Mk 4 van 1967.
Hennie sê dat Ford op 5 April 1961 'n hoogs geheime projek, met die naam Panda, begin het. Vyf jaar en R46 miljoen later was die nuwe V6 Zephyrs en Zodiacs op die pad. Hoekom het dit vyf jaar gevat? Jy kan nie duisende spesialiste se verskillende idees en meer as 14 000 komponente, waaruit die moderne motor bestaan, oornag bymekaarsit nie.
'n Motor bestaan uit drie komponente; die enjingedeelte, passasiers en dan die bagasiebak.
Die binnekant van Hennie Stander se Ford Zodiac Mk 4.
Die Panda-projek het na 20 ontwerpe gekyk en die een wat hulle toe gekies het, was waar die spaarwiel van sy tradisionele plek in die bagasiebak na die voorkant van die enjin skuif. Dit verskaf toe meer spasie in die bagasiebak, die spaarwiel is maklik bereikbaar en soos Hennie laggend sê: "Die wêreld se eerste lugsak."
Die motor is ook toegerus met onafhanklike agtersuspensie, ontwikkel uit hulle jare lange renondervinding. Veiligheid en gerief was 'n voorvereiste en duisende toetse is gedoen voordat die finale produk van die monteerlyn afgekom het.
Die binnekant van Hennie se motor is nog die oorspronklike afwerking en hy is duidelik baie trots en beskermend op hierdie baba van hom.
Die spaarwiel in die enjin gedeelte van Hennie Stander se Ford Zodiac Mk 4.
Party mense het selfs 'n drywer saamgebring.
Vorige artikel: Just Wheels kuier in Lapskuit
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’