'Juffrou Toy' soos sy alom bekendgestaan het, het haar onderwysstudies aan die Athlone Kollege op Paarl en daarna aan die Zonnebloem kollege in Kaapstad gedoen en het later deur afstandsonderrig deur die Roggebaai kollege haar studies voltooi.
Sy het haar eerste onderwyspos vanaf 1970 tot 1972 by Slangrivier Primêr aanvaar, waarna sy in 1973 by St. Barnabas Primêre Skool diens gedoen het. Sedert De Waalville se bestaan in Januarie 1974 het sy haar roeping met absolute passie en toegewydheid, eers as onderwyser en vir die afgelope 16 jaar as prinsipaal toegepas.
Volgens Roberts kan sy met 'n geruste gemoed haar uittrede tegemoet gaan, omdat die oorgrote meerderheid van haar doelstellings en projekte suksesvol afgehandel is. Dié doelgerigte vrou, ma en ouma glo nie in mislukkings nie, maar eerder dat sulke uitdagings 'n mens tot beter resultate aanmoedig. Sy sê dat haar beste oomblikke saam met kinders, veral in 'n klas is wanneer sy sien dat leerders aan haar lippe hang. "Dis wanneer ek weet dat ek die beste uit hulle kry", het sy met trots gesê.
Volgens Roberts gaan sy die skoollewe met die personeel, sowel as die leerders baie mis, maar wens sy haar opvolger alle sukses toe. Sy noem onomwonde dat sy 'n goeie verhouding met haar personeel oor die jare gedeel het. "Daar was die enkele swak oomblikke, maar grotendeels was dit 'n plesier om met hulle te werk".
Sy sê verder dat sy met trots terug kan kyk op 'n suksesvolle loopbaan van haarself, maar ook van die skool se vele spogprodukte, waaronder dié dorp se ster akteurs Christo Davids en Theodore Jantjies (Errol en Xander van 7de Laan), Maurice Paige (Calvin van Isidingo), William Michaels, Sameshia Esau (Protea netbalspeler), Dean Hopp (SA o.21, Griquas en SWD-haker) en dr. Megan Windvogel, wat maar 'n paar van die skool se suksesstories uitmaak.
Die afgelope maand het sy haar laaste pligte as prinsipaal by die skool se twee debutantedanse verrig, wat volgens haar die skool se mees suksesvolste pogings oor die jare heen is. "Ek wil graag my dank teenoor die ouergemeenskap vir hul ondersteuning oor die jare uitspreek," het sy bygevoeg. Roberts het amptelik Vrydagaand, 7 Desember van haar personeel, beheerliggaam en mede-kollegas tydens 'n onthaal in die stadsaal afskeid geneem.

Juffrou Roberts saam met haar evageslag-kollegas tydens 'n onlangse erkenningsaand in die Duivenhoks gemeenskapsaal.