Update
HEIDELBERG NUUS - Die man wat Saterdag-aand twee gesinne se lewens gered het, het met sy lewe geboet toe hy midde-in 'n vlammehel tragies gesterf het.
Peter 'Piet' Amsterdam (38) is glo deur die vlamme verswelg nadat hy sy vrou, Esmien, asook die jong paartjie wie by hulle gekuier het, se driejarige dogter uit die brandende houthuis gered het. Die brand het volgens die inwoners net so voor 23:00 gebeur.
Jessica Hendricks vertel dat die Amster-dam-egpaar by haar en haar man, Malcolm, gekuier het.
Die Hendrickse bly saam met Jessica se ma en pa, Katrina en James Philander, asook haar twee broers in die houthuis. Beide broers was nie by die huis toe die brand uitgebreek het nie.
Jessica sê dat net sy wakker was en televisie gekyk het.
"My ma het skielik haar verskyning by my in die voorkamer gemaak en angstig gesê dat dit so warm is in haar kamer. Ek het opgestaan en gaan kyk, net om te sien my ma se matras en die gordyne brand. Ek het toe onmiddellik my pa wakker gemaak.
"Ek het na ons kamer gegaan en vir Malcolm, Piet en Esmien wakker gemaak om hulle uit die brandende vertrek te kry. Ons was almal erg geskok omdat die vlamme toe al hoog en die rook baie dig was."
Dit was behoorlik 'n vlammehel terwyl die houthuis afgebrand het.
Malcolm het geskok vertel dat hy, Jessica en sy skoonouers veilig buite was en hulpeloos moes toekyk hoe die vlamme al hoe groter word. Dis toe dat hy opgemerk het dat Piet die een venster breek om vir Esmien en sy dogter, Lucinieke, aan te gee.
Esmien, wat self nog erg geskok op die toneel was, het snikkend vertel toe sy en Lucinieke veilig buite was, het sy omgekyk en gesien dat haar man op sy knieë val en kliphard bid.
Sy sê dat alles so gou gebeur het en dat sy nie alles helder kan onthou nie, maar wat sy nooit sal vergeet nie is hoe die liefde van haar lewe later kliphard om hulp geroep het. Sy noodkreet "Here help my" sal verewig in haar ore weerklink, het sy nog snikkend gesê.
Volgens sers. Imorgene Hendricks, plaaslike mediabeampte, word daar geen gemene spel in die stadium vermoed nie. 'n Dossier vir 'n geregtelike doodsondersoek is geopen.
Intussen gons dit in die dorp dat dit brandstigting is en dat 'n familielid moontlik betrokke kan wees.
Dis onder die plaaslike polisie op die toneel se aandag gebring dat die forensiese lid wat die liggaam kom verwyder het, glo onder die invloed van alkohol was. Die kwessie is deur die hoof van Hessequa-beskermingsdienste onder die polisie se operasionele bestuurder se aandag gebring.
Amsterdam is ook wyd op sosiale media as 'n groot held beskryf wat nie geskroom het om sy lewe op te offer sodat hy ander mense vir wie hy baie lief was, te red nie.
Benewens Esmien, laat Amsterdam ook een seun, 'n dogter en twee kleinkinders agter.
Esmien Amsterdam (links) staan hier verslae saam met haar buurvrou en boesemvriend, Elnora Februarie, op die toneel.
Daar word 'n dringende beroep gedoen om die Hendricks- en Philander-gesinne te help aangesien hulle al hul besittings verloor het.
Violet September kan by 078 380 5181 gebel word indien hulle die families met donasies van enige aard kan help.
Inwoners moet op hul hoede moet wees by sulke gebeurtenisse aangesien daar mense is wat die soort samekoms as 'n geleentheid sien om andere te beroof. 'n Jong seun is tydens die brand byna van sy selfoon beroof.
Gelukkig het 'n paar manne die dief op die toneel vasgevat en met hom afgereken.
Malcolm Hendricks en van sy familielede was vroeg die volgende oggend op die toneel om te kyk wat hulle kon red. Foto's: Clive Pretorius
Vorige artikel: Man brand dood
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'