Update
HEIDELBERG NUUS - 'n Groep kinders, vermoedelik tussen die ouderdomme van 8 tot 14 jaar word aan 'n inbraak by Kairos Senior Sekondêre skool op Goeie Vrydag gekoppel.
Die inbraak is ontdek toe die egpaar wat die snoepwinkel by die skool bedryf, vanaf die N2 opgemerk het dat die Wendy-huis van die plaaslike krieketklub se deur oop is. Hulle het ondersoek ingestel en 'n paar jong seuns op die skoolperseel in die Wendy-huis gekry. Die polisie is ontbied en is hulle glo deur die seuns meegedeel dat 'n ander groepie seuns oor die dak geklim het om by die snoepie uit te kom.
Verdere ondersoek is ingestel en het die egpaar ontdek dat die kwaaddoeners deur 'n venster toegang tot die snoepie verkry het. Volgens die eienaar, Joe Mali, is goedere ter waarde van ongeveer R2 000 gebuit. Koeldrank, skyfies, lekkers en ander lekkernye is gesteel. "Hulle het die yskas gestroop," het Mali ontsteld gesê.
Volgens die polisie is dit nog nie duidelik presies hoeveel seuns by die inbraak betrokke was nie en sal hulle alle leidrade opvolg. Mali het gesê dat die seuns op die toneel ongeveer vier seuns se name genoem het. Een van die kwaaddoeners het sy bynaam op die binnemuur van die snoepie geskryf.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'