JONGENSFONTEIN NUUS - Die 82-jarige Tinus Mostert van Jongensfontein, beter bekend as Oom Mossie, is skielik op Vrydag, 17 September oorlede na 'n baie kort siekbed.
Die vorige Maandag het hy gekla van koors, maar daardie Woensdag het hy nog 'n kas gebou. 'n Week later is hy in die hospitaal opgeneem en dieselfde Vrydag is hy oorlede aan die Covid-19-virus.
Oom Mossie was 'n gekwalifiseerde bouer wat in 1993 op Jongensfontein kom aftree het, met die doel om na sy ma om te sien na die dood van sy pa. Hy het egter nie stilgesit nie en het selfs met bye in hierdie tyd geboer.
Hy sal altyd onthou word waar hy meestal kaalvoet met kortbroek en T-hemp iewers besig was met handyman-werkies of in die tuin. Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie.
Petrus Steyn, die bekende konfytmaker van Jongensfontein en 'n jarelange vriend beskryf hom as 'n baie hulpvaardige omgee mens. Iemand wat nooit geld wou aanvaar vir sy hulp nie. Hy dink veral terug aan die tye wat hulle sit en gekskeer het terwyl hulle besig was om vye te krap of perskes te skil vir die konfyt. Wat hom altyd sal by bly, is as jy dankie sê het hy altyd gesê "dis 'n groot plesier".
Hy het diep in die harte van die hele Steyn-familie gekruip en sal beslis gemis word.
Oom Mossie het byna almal in Jongensfontein geken en almal het hom geken.
Hy word oorleef deur sy vrou, Dot met wie hy 58 jaar getroud was, vier kinders; Gerhard in Durbanville, Tinus in Jongensfontein, Heinrich in Bellville en Sanette in Jongensfontein. Daar is ook sewe kleinkinders.
'Ons bring jou die nuutste Jongensfontein, Hessequa nuus'