Update
SLANGRIVIER NUUS - Inwoners van Slangrivier is baie ontstoke toe hulle Woensdag, 3 Februarie uitvind dat Marlon Hartnick (25), wat daarvan aangekla is dat hy vir Sonia Fredericks (40) in haar huis aangerand het, terug by die huis is.
Hartnick is Maandag, 1 Februarie borgtog van R1 000 in Heidelberg-landdroshof toegestaan, maar kon dit nie betaal nie en is terug na die gevangenis.
Dit is onbekend wie en presies wanneer dit wel betaal is. Woensdag laatmiddag het ’n paar inwoners, waaronder Fredericks ook was, ’n kort protesoptog voor sy ouerhuis gehou.
Ongeveer 12 ontevredenes het met plakkate in die straat saamgedrom en hul misnoeë luidkeels oor sy vrylating uitgespreek. Van die slagspreuke op die plakkate het onder andere gelui: “Genoeg is Genoeg”, “Stop The Abuse”, “Geregtigheid” en “Weg Met Jou”.
Volgens van die ontevredenes gaan hulle met sy volgende verskyning op Maandag, 22 Februarie in groter getalle by die plaaslike hof opdaag om hul beswaar teen sy borgtog voort te sit. Hulle beplan om die hof te versoek om sy borgtog terug te trek deur ’n petisielys in te handig.
Hartnick is in 2016 vir soortgelyke aanklagte skuldig bevind nadat hy sy buurvrou ook ernstig aangerand het. Destyds het die gemeenskap daarop aangedring dat hy uit die dorp verban word terwyl sy saak nog hangend was.
Vorige artikels:
- Tronkstraf vir aanranding op buurvrou
- Aanrander weer in hof
- Jong vermeende aanrander verskyn weer
- Vrou wreed aangerand
- Opvolg: Vrou wreed aangerand
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'