SLANGRIVIER NUUS - Groot ontevredenheid heers in die dorp nadat dit rugbaar geword het dat 'n raadslid van Hessequa-munisipaliteit nog steeds vir 'n konsolidasie behuisingsaansoek kwalifiseer.
Ontevredenes het in 'n skrywe aan Suid-Kaap Forum hul misnoeë uitgespreek dat dié raadslid, Lilian February, nog steeds as een van 38 begunstigdes vir die langverwagte behuisingsprojek, wat glo deur die provinsiale departement van behuising van stapel gestuur is, kwalifiseer.
Die begunstigdes is onlangs tydens 'n inligtingsessie in die plaaslike gemeenskapsaal deur wyksraadslid Gerald Boezak en Chris Onrust, direkteur: gemeenskapsdienste van die munisipaliteit, toegespreek.
Volgens ontstoke inwoners behoort February nie meer as begunstigde te kwalifiseer nie aangesien haar ekonomiese omstandighede verbeter het sedert sy as ANC proporsionele raadslid in November 2021 in die raad dien.
Sy was ook al voorheen 'n raadslid, maar was sedert 2016 werkloos tot haar aanstelling verlede jaar.
Volgens Desmond Esau, voormalige raadslid en munisipale behuisingsbeampte, het dit ook onder sy aandag gekom en het hy ook glo navrae daaroor aan die provinsiale departement gerig. Esau, nou 'n lid van die Patriotic Alliance (PA), sê hy dink dat dit onregverdig is dat February nog steeds as begunstigde kwalifiseer terwyl daar menigte ander mense is wat dringend behuising benodig.
Suid-Kaap Forum het by beide Hessequa-munisipaliteit asook die provinsiale minister van menslike nedersetting, Tertuis Simmers, per e-pos navraag gedoen.
Didi Budricks, hoof: openbare betrekkinge en administrasie, het ontvangs van die navraag erken en bevestig om spoedig moontlik terugvoering te gee.
Die kantoor van die minister het bevestig dat die navraag na die kantoor van die hoof van departement behuising verwys word om die terugvoering van die betrokke plaaslike munisipaliteit te fasiliteer.
Wyksraadslid Gerald Boezak (links) en Chris Onrust (regs), direkteur: gemeenskaplikedienste, staan hier saam met die begunstigdes van 'n konsolidasie behuisingsprojek in Slangrivier. Foto: Clive Pretorius
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'