HEIDELBERG NUUS - Humeure het Sondag-oggend vroeg hier vlamgevat toe inwoners hul krane oopdraai vir water en dit soos swart koffie uit 'n filtreermasjien uitstroom.
Asof beurtkrag nie genoeg is om die inwoners rêrig keelvol te maak nie, was dié swartbruin water heeldag hul voorland.
Dit het behoorlik op Facebook en die WhatsApp-gemeenskapsgroep gegons soos wat inwoners, veral van die Oos-Dorp, hul ontevredenheid oor die water uitgespreek het.
Dis veral die evasgeslag wat so teen die munisipaliteit oor die water uitgevaar het aangesien dit juis op 'n Sondag gebeur het terwyl hulle vir kerk en middagete wou voorberei.
Verlede jaar was daar ook so 'n krisis met die water. Een van die klagtes - toe en nou weer - was dat die watertrokke eers later die dag water kom aflewer het.
Op die plaaslike WhatsApp-groep het 'n raadslid die munisipale bestuurder, Albert de Klerk, verwittig van die gemeenskap se ontevredenheid oor die kwaliteit van die water en oor die risiko wat dit vir menslike gebruik inhou.
Volgens inligting via die WhatsApp-terugvoering het Overberg Water laat weet dat daar Saterdagmiddag 'n hooflynpypbreuk tussen die aanleg en die R8-reservoir was.
Overberg het blykbaar, nadat hulle die breuk herstel het, 'n klomp bruin water aan Hessequa-munisipaliteit verskaf en moes hulle noodgedwonge al die lyne spoel.
Verskeie inwoners het behoorlik gal gebraak en reguit gesê dit gebeur op 'n gereelde basis dat die waterkrisis opduik. Inwoners het ook gesê dat die water wat wel laat Sondag met die trokke voorsien is, slegs vir hul wasgoed en huishoudelike take geskik is.
"Ons kan nie almal gebottelde water bekostig nie, het 'n duidelik vies inwoner gemor terwyl hulle water by 'n watertrok gekry het."
Suid-Kaap Forum het die munisipaliteit om kommentaar genader. Didi Budricks, hoof van openbare betrekkinge en administrasie, het ontvangs van die navraag erken en belowe om so gou moontlik terugvoering te verskaf.
Só het die water gelyk wat uit die krane getap is.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'