Update
Dit is die gedeelte waarop Lappiesbaai-restaurant geleë is, asook die omliggende area wat die grasperk aan die voor- en oostekant van die restaurant insluit.
Suid-Kaap Forum het 'n navraag hieroor aan die munisipaliteit gerig om agter die kap van die byl te kom.
Didi Budricks, munisipale woordvoerder het gesê dat die doel van die advertensie is om die publiek die geleentheid te bied om kommentaar/insette te lewer op die voorneme van die munisipaliteit om genoemde gedeelte vir sakedoeleindes te verhuur.
"Die voorsiening van 'n restaurant en kiosk word as 'n minimum vereis. Gevolglik kan die ontwikkelaar die huidige gebou sloop en 'n totale nuwe gebou oprig, of die ontwikkelaar kan die huidige gebou inkorporeer by sy ontwikkeling. Die konsep tendervoorwaardes stipuleer dat daar nie minder parkeerspasies na die ontwikkeling mag wees as wat daar tans beskikbaar is nie."
Die volgende vrae is ook gestel:
Is daar 'n impakstudie gedoen wat die publiek kan bestudeer voor die sluitingsdatum vir kommentaar bereik word op 27 Augustus?
Na gelang van die spesifieke ontwikkelingsvoorstel wat goedgekeur en aanvaar word deur die munisipaliteit sal bepaal word of 'n omgewingsimpakstudie gedoen moet word.
Die suksesvolle tenderaar sal verantwoordelik wees vir die koste van die omgewingsimpakstudie en enige spesialisstudies wat vereis word in terme van die omgewingsimpakstudie aansoek, maar die aard en omvang van die ontwikkeling sal deurslaggewend wees in die bepaling van die studies, al dan nie.
Gaan die suksesvolle ontwikkelaar 'n multiverdieping gebou ontwikkel?
Die Stilbaai Skema Regulasies beperk die maksimum hoogte tot twee vlakke (die grondvlak en die eerste vloer).
Lappiesbaai is 'n baie sensitiewe gebied en is jaar na jaar 'n blouvlagstrand. Is daar sekere voorwaardes waaraan die suksesvolle ontwikkelaar aan moet voldoen?
Die blouvlagstatus sal geensins deur die ontwikkeling beïnvloed word nie. Daar is verskeie voorwaardes ingesluit in die konsep tenderdokument rakende die tydsraamwerk van die ontwikkeling.
Die wyse waarop die tenderaars geëvalueer sal word ten einde vorige ondervinding in soortgelyke ontwikkelings te verifieer en die finansiële vermoë om die ontwikkeling suksesvol af te handel te bevestig, is enkele van die voorwaardes.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'