TUINROETE DISTRIKNUUS - Die Tuinroete-distrik het die afgelope sewe dae 'n toename van 105% in Covid-19-verwante gevalle gehad.
Woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement gesondheid, Nadia Ferreira, sê dit is in vergelyking met die aantal aktiewe gevalle van twee weke gelede.
Sy sê alle sub-distrikte in die Tuinroete het groot stygings in positiewe gevalle gehad.
Die afgelope week was Mosselbaai die gebied met die hoogste aantal Covid-19-gevalle met 'n totaal van 543 mense wat reeds op Maandag, 21 Junie positief vir die virus getoets het. Mosselbaai het meer aktiewe gevalle gehad as die stad, George.
Ferreira sê intussen gaan hulle voort met hulle inentingsprogram aan die Tuinroete. Sy sê sedert die aanvang van die program en op Maandag, 21 Junie is altesaam 26 878 entstowwe toegedien. Dit sluit gesondheidswerkers, ouetehuise en openbare terreine in.
Groter Mosselbaai
Na klagtes verlede week ontvang is oor haakplekke by inentingslokale op Mosselbaai, is met die aanvang van die week se program, veel beter terugvoering ontvang. By die Mosselbaai-stadsaal, het sommige lede van die publiek voor sonop op Maandag, 21 Junie opgedaag om as instappasiënte geholpe te raak. Die hoeveelheid entstof beskikbaar is ook duidelik aangedui.
Op Wolwedans, Groot-Brakrivier het inwoners bo 60 jaar ook die afgelope week bymekaargekom om hulle inentings te ontvang.
Polisiewoordvoerder, sers Laurianne Botha het inwoners in die gebied aangemoedig om hul inentings by die Wolwedans-sentrum te ontvang. Botha het gesê dat daar nie baie mense was wat tydens die eerste dag van inentings by die sentrum aangeklop het nie.
"Die sentrum gee op Woensdae en Vrydae inentings en ons wil inwoners aanraai om hulle inentings te ontvang."
Vanaf 23 tot 25 Junie het die departement gesondheid ook inentings op Herbertsdale, in Sonskynvallei, asook op Klein-Brakrivier gedoen. By elke lokaal kon 100 instapkliënte op 'n eerste in, eerste uit basis gehelp word.
Slegs diegene wat geregistreer het, het gekwalifiseer vir die inenting.
Stilbaai
Inwoners ouer as 60 kan steeds vandag, 25 Junie hul inentings by die burgersentrum ontvang indien hulle geregistreer is.
Instap inwoners (walk ins) sal gehelp word na gelang van entstof wat beskikbaar is. Persone wat afsprake het sal voorkeur geniet. Inentings in die ander dorpe in die streek het die afgelope week by die onderskeie burgersentrums plaasgevind.
Ferreira waarsku dat die inentings nie 'n waarborg is dat 'n persoon nie die Covid-19-virus sal opdoen nie, maar dit bied groter beskerming teen ernstige siekte en dood.
"Dit is dus belangrik dat inwoners steeds die nodige protokol toepas," raai sy aan.
By die Mosselbaai-stadsaal is duidelik aangedui hoeveel enstof beskikbaar is.
Buite die Mosselbaai-stadsaal het lede van die publiek Maandagoggend die sonsopkoms ingewag voor hulle ingeënt is.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'