STILBAAI NUUS - Stilbaai Gallery in Oslerstraat regoor die Tuin op die Brak het groot planne met hierdie knus en intieme gallery. Nadine Hansen en Ingrid Smit poog om hier 'n interaktiewe kunsgallery te vestig waar kunstenaars en voornemende kunstenaars bymekaar gaan kom om idees uit te ruil en tegnieke te verbeter.
Tentoonstellings sal nog steeds die fokus wees, want hier kry plaaslike sowel as nasionale kunstenaars die geleentheid om hul kunswerke uit te stal.
Dit gee dan ook die Stilbaaiers en vakansiegangers die geleentheid om verskeie kunswerke onder een dak te besigtig en natuurlik aan te skaf waarvan hulle hou.
In die gees van Valentynsdag het Ingrid en Nadine die eerste uitstalling van die jaar rondom die liefde beplan met die gepaste naam, Die kuns van liefde.
Ses plaaslike en tien nasionale kunstenaars stal tans uit en daar is werklik pragtige stukke wat aan 'n mens se hart raak. Liefde kan so intens uitgebeeld word en dit is presies wat hulle hier vermag.
Plato het lank gelede gesê: "Love is born into every human being; it calls back the halves of our original nature together; it tries to make one out of two and heal the wound of human nature. Each of us, then, is a 'matching half' of a human whole...and each of us is always seeking the half that matches him."
Volgens Nadine sal hierdie uitstalling tot einde Maart duur en dan het hulle reeds temas vir die volgende uitstallings. Elke uitstalling duur twee maande en oor die Desembervakansie het hulle 'n spesiale uitstalling.
Tussendeur gaan hulle werksessies aanbied vir voornemende skilders en ook spesifieke werkgeleenthede vir kinders van graad twee af.
Met inisiatiewe soos hierdie en die Tuin op die Brak, asook die kunsuitstallings by die tuinbouklub en Fourie Ackerman se muurskilderye by Dewan, is die oostekant van Stilbaai besig om 'n soort van bohemiese karakter te vestig.
Stilbaai is voorwaar 'n plek vir almal.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'