RIVERSDAL NUUS - Die 143 inskrywings wat in vier afdelings vir die Inheems-tienerkunskompetisie ingeskryf is, het die vyf beoordelaars behoorlik uitgedaag.
Die Gouritz-groepsbiosfeer-reservaat (GCBR), Hessequa-kunsroete en Hessequa-biblioteke se tienerkunskompetisie met die tema, Inheems, het groot belangstelling uitgelok.
Die streek se hoërskoolleerders - van 13 tot 19 jaar oud - kon aan dié projek deelneem. Die doel is om omgewingsbewustheid te kweek en om op die biodiversiteit van die streek en die mens se simbiose met sy omgewing te beklemtoon.
"Oplettende beoordelaars het egter gou besef van die inskrywings is nié 'n weerspieëling van die inheemse habitat van dié internasionaal-verklaarde, beskermde biosfeer nie. Ons moes toe professor Meta Google se kennis inwin," skerts Christiaan J de Swardt, ’n kunstejoernalis en die sameroeper van die beoordelingspaneel.
Hy sê baie van die verdienstelike inskrywings moes daarom gediskwalifiseer word.
Die beoordelaars - Marilise Lombard, Marisa de Lange, Janet Muller en Essie Fourie - moes fyn kyk om die onkruid in die oorvloedige woud uit te wis.
De Swardt sê: "GCBR het R7 200 se prysgeld vir dié projek bewillig. Daar is eerste, tweede en derde pryse vir al vier afdelings toegeken. Ons moes op ‘n volhoubare uitkoms besluit. Die paneel het ook in elke afdeling ’n aantal meriete-werke geëien wat spesiale erkenning verdien."
Die Inheems-tienerkunsuitstalling word Woensdag 25 Oktober by die burgersentrum in Riversdal aangebied. Die galery open halftwee die middag. Die prestige-prysuitdeling vind die aand sesuur plaas.
Oorsig van die finaliste.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’