Update
RIVERSDAL NUUS - Altesaam 156 gesondheidswerkers en bejaardes is die afgelope weke in die Droom-tehuise op Riversdal teen die Covid-19-virus ingeënt.
Ou Meule en Jan Lange se gesondheidwerkers, personeel (met inbegrip van Feedem) en inwoners moes toestemming verleen om ingeënt te word.
"Die ontvangers het óf die Johnson & Johnson, óf die Pfizer-entstof gekry. Dertien van die personeellede het geweier, meestal weens persoonlike of gesondheidsredes," sê die hoofverpleegkundige, sr Linda Botha.
Die inenting was ook nie vir die bejaardes verpligtend nie.
"Die inwoners moes toestemmingsbriewe teken. Dié wat nie daartoe in staat was nie, se kinders moes toestemming verleen en die nodige dokumentasie is aan hulle gestuur. Net 19 inwoners het geweier. Ons het geen reaksie van die kinders van sewe van die bejaardes ontvang nie. Daardie bejaardes kon dus nie ingeënt word nie."
Jan Lange huisves 44 inwoners, met inbegrip van die aangrensende woonstelle. Ou Meule huisves 57 bejaardes. In die aangrensende woonstelle is 31 mense.
Botha wys die verskil tussen die tehuise uit. "Ou Meule is die verswakte afdeling en Jan Lange is 'n gekombineerde afdeling; meestal assisted living waar die inwoners in 'n mate nog iets vir hulself kan doen. Daar is egter ook 'n afdeling vir verswakte pasiënte wat meer verpleegsorg benodig. Die woonstelinwoners is heeltemal onafhanklik en benodig geen pleegsorg nie; net soms in 'n noodgeval."
Die gemiddelde ouderdom van die inwoners is 85 jaar.
Botha sê die inenting is deeglik onder streng protokolvereistes gekontroleer. "Dit was 'n administratiewe en arbeidsintensiewe proses. Elke ontvanger van die entstof moes minstens 15 minute lank ná inenting gemoniteer word. Alles het sonder voorvalle verloop."
Vorige artikel: Tehuis-inentings verloop flatervry
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'