Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Twee verdagtes is minder as 10 ure nadat hulle by 'n winkel in Riverville ingebreek het, vasgetrek.
Rayston Arendse (38) en Clinton Hill (30) het Dinsdag 25 Junie omstreeks 02:30 by Kabazi Grocer in Martin Johnsonrylaan ingebreek en goedere ter waarde van meer as R20 000 gebuit.
'n Buurman het omstreeks 05:00 gesien die deur van die winkel staan oop en die eienaar, Abdi Hamied, laat weet. Die twee slotte waarmee die veiligheidshek toegesluit was, is vermoedelik met 'n breekyster oopgedwing.
Hamied het die saak net na 06:00 aanhangig gemaak.
Ao. Moses George, sers. Abe Kamfer en sers. Wayne Arries is na die toneel. Hulle kon op die geslotekringtelevisie die twee verdagtes as twee bekendes in die dwelmbedryf eien. Na hulle die winkel beroof het, het hulle die kamera, wat teen die muur gemonteer was, afgeruk, maar die verdoemende beeldmateriaal was toe reeds elektronies vasgevang.
Die polisielede het na die verdagtes se onderskeie blyplekke naby die winkel gegaan. Die gesteelde goedere, wat onder meer twee selfoon-lugtydmasjiene, waarvan die waarde onbekend is, sigarette ter waarde van sowat R4 000 en toiletware en eetgoed ter waarde van nog sowat R15 000, is in hul besit gevind.
Hulle is omstreeks 12:00 in hegtenis geneem. Hulle het Woensdag 26 Junie in die Riversdal-landdroshof verskyn en die saak is tot 3 Julie uitgestel.
Kyk 'n video hieronder:
Beeldmateriaal wat op die kamera vasgelê is, het die polisie gehelp om die verdagtes gou vas te trek. Foto’s: Tisha Steyn
Lees 'n vorige artikel hier: Inbrekers blitsig vasgetrek
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'