Update Video
RIVERSDAL NUUS - ’n Inbraak by die kantore en lykshuis van die forensiese patologie-afdeling by die plaaslike hospitaal op 1 Desember het personeel met afgryse vervul.
“My kollega Marco Abrahams het vanoggend 09:00 op die inbraak en die skokkende toneel in die lykshuis afgekom,” het Jaco Pretorius van die eenheid Sondag gesê.
“Hy het my gebel en gevra ek moet asseblief dringend kantoor toe kom. Soos hy, het ek nog nooit in my loopbaan iets so skokkend aanskou nie.”
Die inbraak moes tussen 21:00 Vrydag 29 November en 09:00 Sondag 1 Desember plaasgevind het. Die verdagtes het toegang tot die kantore verkry deur ’n stuk beton deur die ruit én diefwering te gooi. Die kantore is geplunder en waardevolle toerusting en persoonlike items met sentimentele waarde is gesteel.
Hulle het toegang tot die lykshuis gekry deur ’n venster oop te forseer. ’n Laai van die verkoelingseenheid is oopgeruk en die liggaam van ’n persoon wat aan natuurlike oorsake in die hospitaal gesterf het, het uitgeval en gedeeltelik op die vloer beland.
“Dit is walglike lykskending,” het Pretorius gesê. “Hierdie is ’n plek van hartseer waar ons mense wat iemand aan die dood afgestaan het, help om met waardigheid van hul geliefdes afskeid te neem. Die skending van ’n gestorwene se waardigheid is onaanvaarbaar.”
Die manier hoe die liggaam sonder respek hanteer is, is vir hom veel erger as die verlies aan toerusting en persoonlike items. “Ons rekenaars, duur kameras en GPS-toerusting is gesteel. Aanvanklik het ons gedink die verdagtes is op soek na lêers wat inkriminerend in ’n hofsaak kan wees, maar die lêers is onaangeraak. Dis asof hulle net na iets waardevol wat hulle kan verkoop gesoek het. Dalk was hulle bedwelm toe hulle by die lykshuis ingebreek het, want watter normale mens sou iets so siek doen?”
Kyk 'n video hieronder:
Sers. Petrie Arries van die plaaslike kriminele rekordsentrum op Swellendam het die toneel ondersoek en onder meer vingerafdrukke geneem. Tydens Suid-Kaap Forum se teenwoordigheid is ’n selfoon wat vermoedelik per ongeluk deur die verdagte agtergelaat is, op die toneel gevind. Daar is ook beslag gelê op ’n groen baadjie met kunspels om die kappie en ’n donkerblou sweetpakbroek met wit strepe wat in die lykshuis agtergelaat is.
Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die gesondheidsdepartement ondersoek die polisie die inbraak. Enigiemand wat inligting kan verskaf word dringend versoek om Riversdal-polisie by 028 713 5800 te kontak.
Van die dissekteertoerusting is gesteel.
Die kantore is geplunder.
IN SHORT
Expensive equipment was stolen and a body was pulled out of the cooling unit during a break-in at the offices of the Riversdale forensic pathological unit and the hospital mortuary.
Lees 'n vorige artikel: By Riversdal-lykshuis ingebreek
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'