Update
RIVERSDAL NUUS - Willem Botha (63), bekende in regs-, politieke en bewaringskringe is Maandag 6 Januarie oorlede.
Volgens wat verneem word, het hy na 'n hartomleidings-prosedure in die Life Bay View-hospitaal op Mosselbaai gesterf.
Botha, wat as prokureur op Stilbaai gepraktiseer het, het saam met sy vrou Petro op hul plaas Klein Kruisrivier buite Riversdal gewoon. Dié oud-speaker van die Hessequa-raad was ten tye van sy dood voorsitter van die raad van die Gourits-groepsbiosfeerreservaat (GCBR).
Botha is die seun van Louis Botha, voorheen burgemeester van Kimberley, wat op Riversdal afgetree en begrawe is. Hy is die broer van Theuns Botha, sakeman, voormalige burgemeester van die dorp en ook voormalige Wes-Kaap minister van gesondheid. Botha word ook oorleef deur sy seun Emile en dogters Rita en Nicolette, wat in Engeland woon. Rita is bestuurder van die GCBR se Goukou River Resilient-projek.
Die GCBR het in 'n mediaverklaring hul hartseer oor sy afsterwe gedeel. "Willem was 'n integrale deel van die span wat die Gourits-groepbiosfeerreservaat begin het. Hy was sedert die registrasie van dié organisasie sonder winsoogmerk in 2011 die voorsitter," lui die verklaring.
"Sy bydrae tot die organisasie is onmeetbaar groot," het dr. Steve du Toit, hoof uitvoerende beampte gesê. "Sy passie en ywer was vir baie van ons 'n inspirasie. Hy was 'n besondere man met 'n sterk sin vir diens aan die gemeenskap. Ons sal hom met deernis mis."
Du Toit het sy opregte medelye met familie en vriende in die moeilike tyd uitgespreek.
Die begrafnis vind op Saterdag 18 Januarie om 11:00 vanuit die NG Kerk Moedergemeente op Riversdal plaas.
Lees 'n vorige artikel: Regsgeleerde, bewaringsman sterf
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'