STILBAAI NUUS - 'n Saak van huisroof word ondersoek nadat 'n 55-jarige vrou op 19 Januarie in Hectorskraal in haar woning oorval is.
Volgens ao. Morné D'Emiljo van die plaaslike polisie is sy in die vroeë oggendure oorrompel.
"Die klaer is van eiendom en haar motor beroof, maar is ongedeerd. Haar voertuig is later die dag 'n paar kilometer van die toneel gevind. Die polisie soek nog na die verdagte wie se identiteit tans onbekend is."
Enige persoon met inligting wat kan lei tot die identifisering en/of aankeer van die verdagte, kan sers. Ludwig Schnetler van die plaaslike speurtak by 028 754 6100 kontak.
Die ondersoek duur voort.