HESSEQUA NUUS - Mense ervaar die inperking verskillend.
Suid-Kaap Forum het met Heleen Viljoen-Brand, ’n sielkundige berader en psigometris op Stilbaai gesels om te hoor hoe mense in dié uitdagende tyd positief kan bly. Sy doen met die ondersteuning van die Lions-klub aanlyn-berading.
“Aan die begin van die inperkingstyd het jy dalk positief gevoel omdat die normale lewe op hold gesit is,” sê sy. “Namate die werklikheid van die inperking en vrees vir die virus en die onbekende toekoms tot jou deurgedring het, kon jy dalk depressief begin raak.” Wanneer negatiewe denkpatrone oorneem en jy nie meer uitkoms sien nie, is dit tyd om ’n terapeut te nader wat jou kan help om die situasie beter te hanteer.
Sy gee 10 wenke om positief te bly:
- Besluit op ’n daaglikse roetine. Dit hoef nie rigied te wees nie, maar probeer ’n mate van struktuur en voorspelbaarheid aan die gesin se dag te gee;
- Bly ingelig deur betroubare nuusbronne te gebruik. Vermy sosiale media en menings op televisie wat jou negatief maak;
- Oefen elke dag 30 minute lank, tensy jy ’n onderliggende mediese toestand het wat dit onmoontlik maak. Wanneer jy oefen, skei jou liggaam endorfien af wat jou goed laat voel;
- Fokus op jou asemhaling wanneer jy gespanne voel. Haal diep asem en hou in vir vyf tellings, asem vir sewe tellings uit. Herhaal vir sowat vyf minute lank. Help jou liggaam ontspan deur elke spier in jou lyf vir vyf sekondes lank saam te trek en te laat ontspan;
- Handhaaf jou slaaproetine. Sit ’n uur voor slaaptyd rekenaar- en televisieskerms af. Wanneer dit donker raak, skei jou brein melatonien af wat jou slaapsiklus reguleer. ’n Glas melk of kamilletee voor slaaptyd kan jou help aan die slaap raak;
- Eet gebalanseerde maaltye en beperk die soet bederfies. Jy wil immers na die tydperk van afsondering steeds in jou klere pas;
- Ons is sosiale wesens en het kontak met ander nodig. Behou kontak met familie en vriende deur middel van tegnologie soos Zoom, Skype en WhatsApp se stem- en video-oproepe. Dit help dat ons nie so erg emosioneel verwyder en geïsoleer voel nie;
- Lag is werklik goeie medisyne, veral in moeilike tye. Kyk na ’n komedie, speel bordspeletjies en wys die kinders hoe wegkruipertjie en vroteier werk;
- Moenie jou kinders te veel aan die nuus van die dag nie blootstel nie. Leer hulle hoe om in dié tyd veilig te wees en vertel hulle waarom dit nodig is. Doen dit op ’n manier wat hulle nie angstig of bang maak nie;
- Moenie toelaat dat kommer oor die huidige situasie jou lamlê nie. Maak ’n lys van vyf dinge waaroor jy tans besorg is. Besluit op ’n plan van aksie en voer dit uit. Aanvaar ook dat daar dinge gaan wees waaraan jy nou niks kan doen nie. Hou op om oor dinge buite jou beheer te tob en rig jou energie op positiewe dinge.
Stuur vir haar ’n e-pos by hviljoen06@gmail.com wanneer jy oorweldig voel.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'