Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Die KANSA Relay for Life is altyd 'n besondere gebeurtenis op die dorp se kalender, maar vanjaar was dit ekstra spesiaal.
Altesaam 540 deelnemers het in 25 spanne en as individue vir die geleentheid wat in die Riverville-stadion aangebied is, ingeskryf.
Die groot aflos het om 18:00 Saterdag 9 November begin en 06:00 Sondag 10 November ten einde geloop.
Die 2019 Relay is gepas met die aansteek van die fakkel wat hoop simboliseer begin. "Die fakkel is die brandende vlam van hoop in ons harte dat 'n kuur vir kanker gevind sal word," het Melvin Kleinbooi, die aankondiger wat die nag se verrigtinge soomloos saamgesnoer het, gesê.
Met die Relay word die lewens van diegene wat die stryd teen kanker oorleef het, gevier. Die oorwinnaars was ook die eerste groep wat 'n oorwinningsrondte om die veld gestap het. Hulle is gevolg deur die toegewyde versorgers. Toe het die spanne een vir een ingeval en op maat van vrolike musiek met hul baniere om die veld gestap, en gestap en gestap.
Fotogalery: Riversdal Relay for life
Deurentyd is vermaak in die vorm van sierlike danse deur groepe en individue, asook plaaslike sangers aangebied.
Om 20:00 het die stemming stemmig geraak. Almal het om die veld by hul luminare-lanterns om die veld stelling ingeneem. Toe die ligte gedoof word, het almal tjoepstil gebly en na die seremonie geluister.
Kyk 'n video hieronder:
Monica Lotter van Robertson, wat 11 jaar gelede met borskanker gediagnoseer is, is een van Suid-Afrika se KANSA se Helde van Hoop van die jaar. Sy het as kanker-ambassadeur haar boodskap van hoop met deelnemers gedeel.
"Ek is met borskanker diagnoseer toe ek 32 jaar oud was. My babadogtertjie was 11 maande oud. Dit was vir my 'n reuse skok."
Haar man en kinders, Rianca (nou 18) en AJ (nou 15), maar veral klein Marioné was vir haar aansporing om te veg. "Die baba was 'n glipsie, maar die Here het geweet ek het daardie glipsie nodig gehad. Sy was - en is steeds - 'n borrelende sonskynkind."
Die behandeling het sowat twee jaar geduur, het sy vertel. "Ek het nie die chemo goed hanteer nie en toe volg die bestraling ook nog. Maar ek was die gelukkige een om te oorleef. My broer Conrad is twee jaar gelede met akute lewerkanker gediagnoseer en is ses weke later dood. Ek relay vandag vir hom."
Verteenwoordigers van die Hendricks-familie van George was ook daar. "Ons het twee tannies en 'n oom verloor," het Melvina Hendricks vir Suid-Kaap Forum vertel. "Ek het nog nie een van my mense aan kanker afgestaan nie, maar ek wil graag ander mense deur die moeilike tye ondersteun," het Wilbur January van Riversdal gesê.
Uiteindelik is 'n luminare-lantern deur geliefdes vir elkeen wat hulle aan kanker afgestaan het, aangesteek. Die ligkring reg rondom die veld het die gestorwenes se familielede, ouers, kinders en vriende in 'n sagte lig omgewe.
Die Relay dien om die gemeenskap bewus te maak van kanker en veral die vroeë identifikasie daarvan. Dit is ook KANSA se belangrikste fondsinsamelingsveldtog en vanjaar is R67 110 ingesamel. Die geld sal gebruik word om kankerpasiënte se lewenskwaliteit te verbeter.
Brenda Scholtz, voorsitter van die Riversdal KANSA Relay for Life met die fakkel. Foto’s: Tisha Steyn
Monica Lotter van Robertson het ’n booskap van hoop gebring.
Die versorgers is ’n belangrike skakel in die KANSA-omgeeketting.
Lees 'n vorige artikel: 540 mense deurnag vir kanker
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'