Update
ALBERTINIA NUUS - 'n Bejaarde man van die dorp, Jan Meiring is Sondag 14 Januarie verskeie kere deur twee groot honde gebyt toe hy sy klein skipperke teen hulle wou beskerm.
Meiring en sy hondjie, wat aan 'n leiband was, het na die plaaslike supermark gestap om brood te koop - 'n gereelde uitstappie wat hulle onderneem het.
Net voor die winkel het die twee groot honde die skipperke aangeval en Meiring is ook gebyt.
'n Vreemde man, wat blykbaar die eienaar van die honde is, het hulle geroep.
Hy het aan Meiring gesê: "Jammer hieroor," en in sy bakkie geklim en gery, met geen gedagte om die bebloede en geskokte Meiring te help nie.
"Laasgenoemde is toe na vriende, wat die ambulansdienste geskakel het.
"Hy is na Riversdal-hospitaal geneem, waar hy vir die bytwonde behandel is.
By navraag het kapt. Susan Botha, stasiebevelvoerder van Albertinia-polisie, bevestig dat die saak wel gerapporteer is, maar dat die polisie nie enige aksie kan begin tensy die eienaar van die honde opgespoor kan word nie.
Meiring, wat in skok was, kon geen inligting oor die soort honde, bakkie of die eienaar verskaf nie.
Die beserings aan sy regterarm moes verbind word.
"Ons rig 'n versoek aan enigeen wat 'n ooggetuie was om na vore te kom sodat die saak verder ondersoek kan word," vra Botha.
Skakel 028 735 8048 indien jy oor inligting beskik, al is dit ook gering.
Lees 'n verwante artikel: Bejaarde deur honde aangeval
ARTIKEL & FOTO: JEFF GIBSON, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'