Dit is onder sy aandag gebring deur 'n besorgde inwoner wat anoniem wou bly.
Daar aangekom was die hond nie 'n baie mooi gesig om te sien nie.
Hy het probeer om stertswaaiend te groet vir die besoekers wat sy erf betree, maar het later bang geraak en in 'n hok gaan wegkruip. Hy het egter weer uitgeklim nadat Conradie met hom gepraat het.
Die nodige stappe is gevolg om die eienaar in te lig dat hy sy hond skut, waarna hy hom losgemaak het van die draad waaraan hy vasgebind was en sonder teenkanting het die dier in die bakkie geklim.
Die eerste gedagte was genadedood, want die hond was oortrek met brandsiek. Conradie het egter gevoel om hom 'n kans op lewe te gee.
"Ek sal hom versorg en glo ek sal hom weer gesond kry." Vandeesweek het hy 'n foto ingebring van hoe die hond nou lyk... en almal was verstom dat hy dit reggekry het om die erg verwaarloosde hond met net genoeg liefde, aandag en kos, asook die nodige medikasie vir sy brandsiek in so 'n gesonde toestand te kry.
Suid-Kaap FORUM gee 'n pluimpie aan hom vir sy deursettingsvermoë met die dier. In 'n kwessie van twee maande sal niemand kan sê dat dit dieselfde hond is wat daardie dag by die huis verwyder is nie.
Conradie het weereens gesê dat hy baie dankbaar is teenoor mense wat gevalle van dieremishandeling onder hul aandag bring, want die gemeenskap moenie anderpad kyk nie, maar eerder betrokke raak en dit aanmeld. " Diere kan nie vir hulself praat nie."
Die hond op Maandag, 29 September afgeneem - presies twee maande nadat hy geskut is. Foto: Elize Blom
ARTIKEL: ELIZE BLOM, SUID-KAAP FORUM-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'